ADVERTISEMENT:

 

‘n Selfoonfoto van klein Reinhardt Smit in Pretoria op Dinsdag, 2 Junie, voor die gesin huis toe gereis het. Foto verskaf.

Klein Reinhardt weer tuis!

 

News  Date: 05 June 2009

 

Klein Reinhardt Smit is by die huis! Na 17 dae in die waakeenheid slaap die klein leukemie pasiëntjie in sy eie bed op Bandolierkop.

Ma Louise sê dat Reinhardt baie opgewonde was om hulle honde te sien. Hy kan al weer ‘n bietjie praat, lag en gesels, nadat sy keeltjie maar seer was van al die pype.

Kleinboet Ewan, wat amper twee jaar is, raak ook al weer gewoond aan sy ouboet van drie jaar en agt maande. Pa Ryno sê dat hy eers nie sy ouboet herken het met die afgeskeerde haartjies en skraal lyfie nie.

Die Smit-gesin gaan vyf aande tuis slaap en dan Sondag (7de) weer vertrek na Pretoria om die tweede fase van die behandeling by die onkologie-afdeling van die Little Company of Mary Hospitaal te begin.

“Dit was vir ons wonderlik dat die beenmurg toets nou gewys het dat daar 3% kankerselle teenwoordig is,” sê ‘n dankbare Ryno. Na twee weke van behandeling het die persentasie kankerselle in die beenmurg van 95% na 5% gedaal. Reinhardt het toe komplikasies beleef en moes eers daardeur veg.

Daar was die bekommernis dat die kankerselle net so vinnig weer kon optel in die tyd wat die behandeling eers gestaak is. Dit het wonderbaarlik nie gebeur nie.

Die kardioloog was Dinsdag, 2 Junie, baie positief oor die toestand van Reinhardt se hart en die gesin kon huiswaarts keer. Sy volgende drie behandelingsfases volg kort op mekaar en dan is daar ‘n lang stabiliseringsfase.

Intussen het dit goed uitgewerk dat pa Ryno, ‘n professionele jagter, hierdie week tuis kan wees, aangesien hy juis nou ‘n kliënt het.

“Aan almal wat ons so ondersteun in hierdie moeilike tyd wil ons opreg dankie sê. Dankie is maar ‘n klein ou woordjie, maar baie kragtig. Gebede, gedagtes, oproepe, SMSe en donasies maak dit vir ons makliker. Elke keer wat dit voel asof dinge te veel word, dan kom daar ‘n boodskap deur wat jou weer krag gee. Dit maak ons harte bly om te sien dat Reinhardt so ‘n geliefde seuntjie is. Selfs by die hospitaal weet almal wie is Reinhardt! Ons glo dat die Here vir Reinhardt gebruik om vir mense te wys dat wonderwerke moontlik is en dat Hy almagtig is. Ons weet nie altyd hoekom sulke goed gebeur nie, maar ons sal daardeur kom,” is die boodskap wat die Smit-gesin graag aan die gemeenskap wil deurgee.

Persone of instansies wat finansiële bydraes wil maak, kan die Van Heerden en Rudolph Trust Rekening gebruik. Die rekeningnommer is 100 574 0840, by ABSA Bank Louis Trichardt en die verwysing is Reinhardt Smit Fonds.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines