

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Reënneerslae in Desember en Januarie is van kritieke belang vir die landbougemeenskap in die Soutpansberg streek.
Ernstige skade is reeds veroorsaak deur hoë temperature en lae lugvog. Die huidige situasie is in die algemeen nog nie kritiek nie.
Die voorsitter van die Soutpansberg Distriks Landbou-unie, mnr. Dries Joubert, het vandeesweek by navraag gesê onlangse verspreide neerslae oor die streek het die droogtenood gedeeltelik verlig. 'n Ernstige situasie sal egter ontstaan as daar nie nou voldoende opvolgneerslae kom nie.
In die ekstensiewe veeweidingsgebied noord van die Soutpansberg, is daar in die algemeen weinig gras, maar die blaar komponent is op die meeste plekke voorlopig voldoende. Maar dit sal nie lank hou, as daar nie tydige opvolgneerslae uitsak nie. Op plekke in die omgewing van Waterpoort is daar alreeds weidingsnood.
"Ons kan in die hele streek op 'n ernstige droogtesituasie in Februarie en Maart aanstaande jaar afstuur, as ons nie in Desember en Januarie verdere neerslae kry nie," het mnr. Joubert gesê.
Hy sê boere in Levubu het reeds in September en Oktober vanjaar ernstige verliese gely weens die hoë temperature en lae lugvog. Avopkadopere en neute is veral erg getref, deurdat jong vrugte afgespeen het. Dit het ernstige skade aan die avokadopeer- en neutoeste veroorsaak. Dit het nie net verlaagde oeste meegebring nie, maar sekere avokadopeer variëteite, soos Hazz, se vruggrootte word ook nadelig beïnvloed, sodat 'n kleinvrugprobleem waarskynlik ondervind sal word.
Voortgesette hoë temperature kan ook die gehalte van beskikbare besproeiingswater uit die Limpopo nadelig beïnvloed deur versouting. Tot dusver is die watervlak vir besproeiing uit boorgate nog in die meeste gevalle bevredigend.
In die vrugte- en groenteproduserende Nzhelele-vallei, het die watervlak in die Nzheleledam intussen tot 32% gedaal, teenoor 'n stand van 65% verlede jaar. Die Albasinidam staan op 48%, teenoor 83% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
In die gedeelte suid van die Soutpansberg het goeie reënneerslae vroeër voorgekom. Tydige opvolgreën is ook daar van groot belang.
Intussen duur waterbeperkings op die twee grootste dorpe in die streek voort. Op Makhado (Louis Trichardt) is 'n algehele verbod op die gebruik van munisipale water vir tuine steeds van krag, terwyl inwoners van Musina net op bepaalde dae beperkte hoeveelhede water vir tuine mag gebruik.

ADVERTISEMENT:
