

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 June 2009
Geraas en ‘n kroeg in ‘n residensiële area? Volgens beswaardes is harde lawaai nie aanvaarbaar in ‘n woongebied nie en daarom is beswaar aangeteken.
Die Makhado Munisipaliteit het die aansoeker, me Annette du Preez, eienaar van Die Grasdak Gastehuis en Restaurant op Louis Trichardt, en die klaer, mnr. Johan Laubser, op 27 Mei laat kom om die saak aan te hoor. Die munisipaliteit het in Maart vanjaar aanbeveel dat me. Du Preez se aansoek vir spesiale toestemming om haar eiendom te gebruik vir die doeleindes van oornag akkommodasie, gastehuis en restaurant nie weer toegestaan word nie en dat ‘n verhoordatum vasgestel word.
Dit het as ‘n skok gekom vir die besigheid wat sedert 1996 op die hoek van Erasmus en Cilliersstraat bedryf word. Me. Du Preez en haar oorlede eggenoot, mnr. Johan Botha, het die besigheid in 1998 van mnr. Andries Roets gekoop. Tans verskaf die Grasdak werk aan 22 werknemers.
Volgens ‘n munisipale dokument was een van die voorwaardes vir spesiale gebruik “dat genoegsame stappe geneem sal word om uitermatige geraas te voorkom” wat steurend vir die inwoners van die buurt sal wees.
Die bedoeling met die besigheid was dat “drank aan mense bedien sal word, terwyl hulle wag vir die bediening van hulle kos en dat die besigheid as ‘n eksklusiewe (upmarket) restaurant bedryf sal word,” lui die dokument.
Mnr. Laubser het dit tydens die verhoor duidelik gestel dat dit nie sy bedoeling is om die besigheid toe te maak of die werknemers hulle werk te ontneem nie. Die beswaar is teen die onaanvaarbare hoë vlak van geraas, die bedryf van ‘n kroeg by die gastehuis en die verkoop van drank aan kliënte van die straat af en aan minderjarige kliënte. Die probleem van motors wat in die straat rondjaag in die laat aand en vroeë oggendure is ook genoem.
Hy het dit ook gehad teen die vloektaal van ondertekenaars van die petisie om die Grasdak oop te hou.
Raadslid T Mudau het die saak aangehoor.
Me. Du Preez is verteenwoordig deur haar prokureur, me. Stephanie van der Westhuizen. Sy het gesê dat die spesifieke petisie nie ‘n vereiste dokument is nie, maar net ‘n ondersteunende dokument.
Van der Westhuizen het aangevoer dat sekere stappe alreeds geneem is om die geraassteurings hok te slaan, soos die verwydering van die buite luidsprekers. Sy het ook gesê dat motors oral in die dorp rondjaag en dat haar kliënt nie verantwoordelikheid kan neem daarvoor nie. Sy het aangevoer dat daar geen prima facie bewys is dat drank aan kliënte van die straat af verkoop word nie. Van der Westhuizen het gesê dat Die Grasdak ‘n goedgevestigde besigheid is wat ‘n bydrae lewer tot die ekonomie van die dorp.
Van die werknemers van Die Grasdak het ‘n pleidooi gelewer dat hulle nie hulle werk wil verloor nie.
“Ek dink die geraas is nou minimaal. ‘n Mens kan ook nie alles in een dag uitsorteer nie,” het een werknemer gesê. ‘n Ander werknemer, wat al sedert 1997 daar werk, het gesê dat hulle die dronk mense buite keer om binne te gaan.
Me. Linda Pennells het gesê dat sy dit verkies dat haar kinders nie buite die dorp ry nie, maar in die dorp na Die Grasdak gaan.
“Ons kinders is veilig daar, daar is nie gevegte of dwelms nie en daar is supervisie,” het Pennells gesê.
Laubser het geantwoord dat hy nie weet watter stappe daar geneem is om die geraas te verminder nie, aangesien die polisie die vorige naweek weer ingeroep moes word om die geraas stil te maak. Hy het ‘n pleidooi gelewer dat die besigheid die munisipale regulasies gehoorsaam. Dit het aan die lig gekom dat die geraas die laaste jaar of jaar en ‘n half steurend begin raak het.
Na afloop van die verhoor het me. Du Preez gesê dat sy uitstekende verteenwoordiging gehad het.
“Ek glo die besigheid sal voortgaan met beperkings wat aanvaarbaar is.”
Daar is aangedui dat die uitslag van die verhoor moontlik teen die einde van Junie beskikbaar sal wees.
“En die geraas in die tussentyd?” was die klaer se vraag.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
