ADVERTISEMENT:

 

Kaptein se voertuig dalk wel gesteel

 

News  Date: 05 June 2009

 

Die polisie se ondersoek na ‘n voorval waar ‘n polisiekaptein van die SAPD op Louis Trichardt se voertuig op Maandag, 25 Mei, verlate op die Vondelingpad met ‘n vrag gesteelde koperdraad gevind is, duur steeds voort.

Die waarde van die vrag koperdraad beloop sowat R10 000. Die voorval het onmiddellik spekulasie laat ontstaan dat die betrokke polisiekaptein dalk betrokke kon wees by ‘n koperdiefstalsindikaat, aangesien dele van sy polisie-uniform ook in die voertuig gevind is.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag Woensdag gesê dat hulle steeds besig is met die ondersoek. Die betrokke polisiekaptein het ná die ontdekking van sy voertuig ‘n saak van voertuigdiefstal geopen en het enige aandeel in die voorval ontken.

Kapt. Sadike het gesê dat dit in hierdie stadium wil blyk asof sy voertuig wel gesteel is deur ‘n man wat slegs vyf dae vantevore vrygelaat is ná ‘n lang gevangenisstraf op klagte van voertuigdiefstal. Die kaptein self het ‘n tweede voertuig waarmee hy gery het, toe sy ander voertuig na bewering by die polisiestasie gesteel is.

Kapt. Sadike het verduidelik dat die betrokke verdagte kort voor sy vrylating harde-arbeid by die polisiestasie verrig het ter voorbereiding vir sy vrylating. Hy is in die weke tot voor sy vrylating in die polisie se selle aangehou. Hulle het hom as verdagte geïdentifiseer op grond van ‘n borg-kwitansie wat uit sy sak geval het, nadat lede van die publiek hom wou voorkeer toe hy in ‘n stadium weer teruggekeer het na die voertuig waar dit vasgeval het op die Vondelingpad. Hy het borg vir iemand anders kom betaal, maar die polisie het die kwitansie teruggespeur na hom toe.

Die verdagte was teen druktyd steeds op vrye voet. Intussen het kapt. Sadike gesê daar is geen waarheid in gerugte dat die koperdraad wat in die polisiekaptein se voertuig gevind is afkomstig is uit die SAP 13-stoor waar bewysstukke by die polisiestasie bewaar word nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines