ADVERTISEMENT:

 

Wyle tannie Olive Brümmer (65).

Tannie Olive sterf ná kort siekbed

 

News  Date: 05 June 2009

 

Die Soutpansberg het die afgelope week met hartseer verneem van die dood van nog ‘n bekende in clivia-kwekersgeledere, tannie Olive Brümmer (65) van Louis Trichardt.

Tannie Olive is skaars twee weke na haar pa, oom Gordon de Vries, se dood op haar verjaarsdag op 28 Maart met kanker gediagnoseer. Medici in Pretoria het aanbeveel dat hulle opereer, maar aangesien hulle nie kon waarborg dat sy genees sou wees nie, het tannie Olive teen die operasie besluit. Sy is ‘n paar weke gelede in die Zoutpansberg Privaat Hospitaal opgeneem. Haar gesondheid het vinnig agteruitgegaan en sy is laat Maandagmiddag oorlede.

“Ek sal my ma onthou as iemand wat tot op haar sterfbed haar ontferm het oor die nood van andere. Sy het altyd ‘n glimlag gehad vir iemand en ‘n oor om te luister vir haar medemens,” het haar dogter Ilzé Woensdag gesê.

Tannie Olive het haar laerskoolloopbaan by Laerskool Louis Trichardt voltooi en was van Standerd 8 tot matriek verbonde aan Hoërskool Tom Naudé. Sy het haar werkslooppaan by die destydse Werke Departement op Louis Trichardt begin. Daarna is sy oor na veeartseny dienste toe. Menige sal haar egter onthou vir haar jarelange verbintenis met Vleissentraal waar sy bekend was vir haar kennis van antieke ware en veilings. Haar pragtige clivias wat sy by haar huis gekweek het, het tannie Olive ook alombekend gemaak.

Tannie Olive is in 1966 getroud met eweneens ‘n bekende inwoner, oom Jas Brümmer. Twee kinders is uit die huwelik gebore, seun Gordon en dogter Ilzé. Hul het troos daarin gevind dat hulle ma en eggenoot nie lank gely het nie.

Tannie Olive word oorleef deur haar man, twee kinders en hul onderskeie eggenote Sandra en At, en kleinkinders Wieghard, Chanél, Adriaan en Johan. Sy sal Vrydag, 5 Junie om 11:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente op Louis Trichardt begrawe word.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines