

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 June 2009
Inwoners van Musina is ongemaklik met die verskuiwing van Binnelandse Sake se mobiele kantore terug in die rigting van die sentrale sakegebied van die dorp.
Die samedromming van groot getalle Zimbabwiërs voor die kantore veroorsaak ongerief en belemmer toeganklikheid tot sakeondernemings in die omtrek. Sakelui sê dit kan ‘n ernstige negatiewe impak hê op die voortsetting van gevestigde sake in dié omgewing.
Die mobiele kantore van die departement is vanaf die munisipale skouterrein verskuif na die persele van ‘n hardeware onderneming net wes van die hoofstraat.
Die kantore is aanvanklik na die skouterrein uitgeskuif, omdat die grootskaalse samedromming van Zimbabwiërs voor die departement se permanente kantore digby die middel van die sentrale sakegebied ontwrigting veroorsaak het. Die situasie op die skouterrein het egter ook gou ondraaglik geword, weens tydelike skuilings wat die haweloses opgerig het terwyl hulle gewag het vir die uitreiking van dokumente.
Op aandrang van die departement is die skuilings verwyder en die mense vanaf die parkeerterrein van die skouterrein verwilder, onder die voorwendsel dat die kantore gaan uitskuif na die militêre hoofkwartier suid van Musina.
Dit het nooit gebeur nie.
Nou is die kantore tydelik verskuif, vermoedelik in afwagting op die voltooiing van geskikte permanente kantoorruimte op die dorp. Die gebou wat nou na bewering vir dié doel opgerig word, is nog nader aan die middel van die sakesentrum - reg langs die poskantoor op die dorp.
Inwoners voorspel reeds ernstige ontwrigting van selfs internasionale verkeer (die N1 verlenging - ‘n nasionale hoofweg - is die dorp se hoofstraat). Die smal eiland wat die hoofstraat skei van die eenrigtingstraat voor die poskantoor is die waarskynlikste versamelplek vir die groot getalle mense.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
