ADVERTISEMENT:

 

Botha-moordverdagtes vra vir borg

 

News  Date: 12 June 2009

 

Die vyf mans wat daarvan beskuldig word dat hulle op Donderdag, 19 Februarie, die 78-jarige mev. Tienie Botha vermoor het, het weer verlede Vrydag, 5 Junie, in die hof op Louis Trichardt verskyn.

Tydens die vyf se hofverskyning op Donderdag, 21 Mei, is hul saak uitgestel tot 5 Junie, omdat Manuel Zitha siek was en in die hospitaal opgeneem moes word.

Die vyf mans het Vrydag aansoek gedoen om borg. Hulle aansoek is egter uitgestel tot 16 Julie, wanneer die hof die aansoek verder sal aanhoor.

Twee van die verdagtes, Rudzani Mufamadi en Thobile Jili, het tydens hul borgaansoek in hul verweer beweer dat lede van die polisie die vuurwapens op hulle “geplant” het tydens hul inhegtenisneming en ook vir hulle gewys het wat om uit te wys op die misdaadtoneel.

Mufamadi het verder aangevoer dat hy nie kan onthou waar hy was op 19 Februarie nie en aangedui dat hy nie seker is op watter klagte hy aangehou word nie. Hy het gesê hy sal tydens ‘n verhoor onskuldig pleit op die klagte van moord.

Jili het aangevoer dat hy vanaf Johannesburg gereis het en die oggend van 19 Februarie in Louis Trichardt gearriveer het. Mufamadi het ‘n lang lys van vorige aanklagte teen sy naam. In 1997 is hy skuldig bevind op een klagte van poging tot moord en een klagte van diefstal en gevonnis tot agt jaar gevangenisstraf, waarvan vier jaar opgeskort is. In Junie 2007 is hy skuldig bevind op ‘n klagte van aanranding en is ‘n boete van R300 opgelê. Ongeveer dieselfde tyd het hy ook ‘n skulderkening van R400 betaal op klagte van minagting van die hof.

Die vyf verdagtes staan tereg op ‘n een klag van moord, een klag van gewapende roof en twee klagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen.

Intussen is daar sprake dat al vyf die verdagtes verbind kan word met die aanval op twee vrouens van die dorp in Januarie vanjaar in Andersonstraat.

Die 56-jarige vrou wat aangerand is, het bevestig dat sy drie van haar en haar skoonsuster se aanvallers uitgeken het, nadat sy die foto’s van die vyf Botha-moordverdagtes in die koerant gesien het. Haar man het bygevoeg dat een van die verdagtes, David Lihaiwa, by sy maatskappy werksaam was.

Die egpaar is deur die ondersoekbeampte in hul saak meegedeel dat die mans weier om vir ‘n uitkenningsparade te staan.

By verdere navraag het plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike, bevestig dat daar nog nie ‘n datum vir ‘n uitkenningsparade vasgestel is met betrekking tot die aanval op die twee vrouens nie en dat die ondersoekbeampte vir goedkeuring vanaf die stasiebevelvoerder wag.

Die vyf, David Lihaiwa (29), Rudzani Mufamadi (29), Manuel Zitha (36), Thobile Jili (26) en Thomas Ramudzuli (40), is steeds in aanhouding.

 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines