

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 June 2009
“As ons dit regkry om met hierdie hele storie ‘n ander familie die verdriet te spaar, dan sal ons tevrede wees”.
So het mnr. Frik Nel verlede Donderdag gesê na afloop van die soveelste besoek aan die staatslykshuis op Brits om sy seun se oorskot te probeer opspoor. Hy het nie meer woorde nie en emosioneel is hy leeggetap.
Johan is op 8 September verlede jaar op slag dood, nadat sy bakkie en ‘n vragmotor naby Brits in Noordwes Provinsie gebots het. Beide voertuie het uitgebrand, met Johan wat in sy bakkie verkool het. Twee dae later het ouers Frik en Sougnet die eerste keer na Brits gereis om hul seun se oorskot op te eis. Dit het nooit gebeur nie. Hul seun se oorskot het skoonveld verdwyn en byna nege maande later kan die Staat steeds nog nie daarvan rekenskap gee nie.
Vroeër hierdie jaar, op 22 Januarie, is Frik en Sougnet wel meegedeel dat Johan alreeds op 21 Oktober verlede jaar as een van 13 ongeïdentifiseerde liggame as ‘n armlastige in die Oukasie-begraafplaas buite Brits begrawe is. Kort hierna is ‘n hofbevel uitgereik vir die opgrawe van Johan se oorskot. Dié opgrawing het op 20 Februarie op staatskoste plaasgevind. Weer moes hulle wag dat daar eers DNS-toetse gedoen moes word om te bepaal of dit wel Johan is.
Frik was verlede Maandag weer by die lykshuis op Brits, maar die keer is hy vergesel deur die Fokus-televisiespan en mnr. Kallie Kriel van Afriforum. Afriforum staan tans vir Frik en Sougnet met regshulp by.
“Hulle het aan my ‘n lyk gewys, maar dit was nie Johan nie. Die lyk wat hulle gewys het, het nie gebrand nie,” sê Frik.
Intussen het die LUR van Gesondheid in Noordwes, me. Rebecca Kasienyane, gehoor van die Nel-egpaar se stryd en het verlede Woensdag met die egpaar vergader. Sy het verskoning aangebied teenoor die egpaar en erken dat daar definitief nalatigheid was aan die kant van regeringsbeamptes in die hantering van Johan se oorskot. Kasienyane is ook saam met die Nel-egpaar na die lykshuis. Daar is weer ‘n liggaam aan die Nel-egpaar gewys, maar glo dit of nie, weer was dit ‘n ander lyk as die een wat Maandag aan Frik gewys is.
“Dit was ook nie Johan nie. Ek het my seun se liggaam na die ongeluk gesien en die een wat hulle aan ons gewys het, was ook nie Johan nie,” het Frik gesê.
Te midde van die hartseer, klou die Nel-egpaar steeds vas aan die hoop dat hulle Johan se oorskot sal opspoor. Hulle wag ook nog op die uitslag van die tweede DNS-toets na die opgrawing.
“Sy kinders wil weet waar hul pa is en ons wil graag ons seun ‘n ordentlike begrafnis gee,” sê Frik.
Intussen vra die Nel-egpaar, in samewerking met Afriforum, nou vir ‘n kommissie van ondersoek rondom die voorval. Teen druktyd was daar nog geen aanduiding of so ‘n kommissie aangestel sal word nie. Frik meen verder dat hy steeds bereid is om die Departement van Gesondheid ‘n kans te gee.
“Ek glo steeds hulle sal my seun kry,” sê Frik.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
