

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 June 2009
“Ek het nog nooit in my lewe sulke behandeling ontvang waar iemand my uit ‘n gebou wil gooi nie,” sê ‘n gerespekteerde lid van die gemeenskap nadat ‘n sekuriteitswag by die Munisipaliteit klaarblyklik opdrag ontvang het om hom uit die gebou te gooi.
Hierdie vernederende behandeling is deurgemaak deur mnr. Paul Herman (65), Louis Trichardt se Sakeman van die Jaar in 1997, toe hy die Makhado Munisipaliteit op Woensdag, 3 Junie, besoek het.
Die vorige dag was mnr. Herman en sy vrou, Lea, by die munisipaliteit om aansoek te doen vir die vyfjaarlikse hernuwing van sy rybewys. Hy het by die oogtoetsafdeling begin waar al die nodige dokumente voltooi is. Daarvandaan is hulle na die vingerafdrukafdeling waar alles ook afgehandel is.
“Ons is verwys na ‘n baie lang ry en ons het besluit om liewers die volgende oggend terug te kom. Ons het vir een van die personeel gevra hoe laat ons daar moet wees en hy het gesê dat dit die beste is om reeds om 07:00 daar te wees,” vertel mnr. Herman.
Die volgende oggend het die afgetrede egpaar, wat 20km uit die dorp woon, vroeg vertrek en om 07:00 die munisipale gebou binnegegaan. Die sekuriteitswagte het hulle gegroet. By die lisensietoonbank aangekom, het ‘n werker hulle aangeraai om stoele te neem en daar te sit. Me. Herman het gaan sit, terwyl mnr. Herman ‘n bietjie rondgestap het, kennisgewings gelees en die vertoonkas bekyk het. Nog vier persone het ook stoele geneem en daar in die tou gesit.
Omstreeks 07:40 het ‘n sekuriteitswag mnr. Herman aangesê om die gebou te verlaat. Hy het aan die wag verduidelik dat hulle daar is sodat hulle eerste gehelp kan word en dat hulle dit in opdrag van een van die personeel van die lisensie-afdeling doen. Een munisipale beampte het verbygekom en gesê dat hulle wel daar mag sit. Die sekuriteitswag het ‘n ruk later teruggekom met ‘n ander munisipale beampte in ‘n besturende hoedanigheid.
“Nadat hulle ‘n ruk in hulle taal gepraat het, sê die persoon vir my ons moet die gebou verlaat. Nadat ek vir hom gesê het ek het toestemming om daar te wees, het die bestuurder weer met die sekuriteitsman gepraat en iets gesê van ‘you will get money for this’ en daarna geloop,” sê mnr. Herman.
Daarna het die sekuriteitsman op mnr. Herman afgekom en hy het ‘n tree teruggestaan.
“Ek het besef dat hy my met geweld wou uitgooi en het dit baie duidelik aan hom gestel dat hy dit nie moet waag om aan my te raak nie,” sê mnr. Herman. Me. Herman het haar ontstelde man aangeraai om die man te ignoreer en die egpaar het aan die binnekant van die deur bly staan. Dit was toe ongeveer 07:58 en ‘n hele aantal mense het reeds voor die deure gestaan.
Mnr. Herman het aan die sekuriteitsman gevra waarom die mense buite in die koue moet staan en daar is aan hom gesê dat dit hulle instruksies is.
Om 08:00 is die Hermans terug na die stoel waar sy lêer nog steeds gelê het en is hulle binne ‘n kwartier gehelp.
“Die vrou agter die toonbank was baie ordentlik en behulpsaam,” sê mnr. Herman.
By navraag het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê dat die munisipaliteit om 07:00 open en dat persone binne kan wag, afhangende van die weersomstandighede.
In ‘n gesprek met mnr. Herman en die Zoutpansberger op 8 Junie het mnr Bobodi verskoning vir die voorval aangebied.
“Dit is ons beleid om ons mense met waardigheid te bedien. Maar sommige persone is sleg gebore (are born wicked) en het ‘n ander mentaliteit en steur hulle nie aan die Batho Pele beginsels nie,” het mnr. Bobodi gesê. Hy het onderneem om die klagte te laat ondersoek en te-rug te rapporteer.
“Daar moet streng opgetree word teenoor diegene wat nie volgens die regeringsmandaat optree nie … Die klagte sal nie op korrupte wyse onder ‘n hoop koerante gedruk word nie,” het Bobodi belowe.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
