ADVERTISEMENT:

 

Wyle ds. Leon du Toit (62).

Geliefde ds. Leon du Toit oorlede

 

News  Date: 12 June 2009

 

Familie, vriende en gemeentelede het met hartseer afskeid geneem van ds. Leon du Toit (62), leraar van die Afrikaanse Protestantse Kerk op Louis Trichardt, tydens ‘n roudiens wat Maandag gehou is.

Ds. Du Toit het op 17 Mei ‘n asma-aanval gehad, gevolg deur beide ‘n beroerte- en hartaanval. Hy is dadelik na die Zoutpansberg Privaathospitaal gehaas. Later is hy oorgeplaas na die Medi Clinic se waakeenheid in Polok-wane, waar hy na ‘n kort siekbed op Woensdag, 3 Junie oorlede is.

Ds. Du Toit het sy skoolloopbaan op Bellville in die Wes-Kaap voltooi, waarna hy vanaf 1965 tot 1973 aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer het. In 1969 ontvang hy sy BA Admissie graad. Daarna voltooi hy sy honneurs in filosofie en BTh-graad.

Aanvanklik was ds. Du Toit verbind aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk en aanvaar hy sy eerste beroep by die NG Kerk Oudtshoorn Noord-gemeente. Hierna aanvaar hy ‘n beroep na die NG Kerk in Port Elizabeth. In 1993 verhuis ds. Du Toit en sy gesin na Louis Trichardt, nadat hy beroep is tot die AP Kerk hier.

Ds. Du Toit word oorleef deur sy moeder, Sarie, eggenote Erna, twee seuns (Abri en Johan) en een skoondogter, Ma’Cheries.

Die gesin het hul opregte dank en waardering uitgespreek teenoor die kerkraad, vroueaksie en gemeentelede van die AP Kerk in Louis Trichardt, asook al die leraars in die breër kerkverband vir al hulle boodskappe, liefde, SMSe, oproepe, blomme en ondersteuning. Die hele gemeenskap van Louis Trichardt word ook bedank vir die talle boodskappe en liefde wat hulle gegee het.

“Mag ons liefdevolle Hemelse Vader hierdie gemeente ryklik seën.”

 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines