

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 June 2009
‘n Inwoner van Louis Trichardt en haar negejarige dogter het op 28 Mei ‘n noue ontkoming by ‘n inkopiesentrum in Polokwane gehad.
Mev. Nettie Geerdts was in Polokwane saam met haar negejarige dogter vir ‘n netbalwedstryd. Ongeveer 16:00 het hulle na die Limpopo-inkopiesentrum gegaan om iets te kry om te eet, voordat hulle die lang pad huis toe sou aandurf. Terselfdertyd het sy en haar dogter ook ‘n vinnige paar inkopies gedoen.
Op pad uit, het Nettie by ‘n vierrigting-kruising net buite die sentrum gestop. ‘n Boemelaar het tussen die stilstaande voertuie deurbeweeg en ook by haar venster kom bakhand staan.
“Dit was al redelik laat en in daardie stadium was ons enigste begeerte om terug te kom by die huis. Ek het vir my dogter gesê om net die man te ignoreer,” vertel Nettie.
Die boemelaar het aanbeweeg na die volgende kar, maar het skielik omgeswaai en “iets wat soos ‘n koeëllaer lyk, uit sy mond gehaal” en die venster aan die passasierskant van Nettie se voertuig daarmee flenters gegooi. Dit het byna geklink soos ‘n geweerskoot.
In ‘n oogwink het die boemelaar haar handsak en inkopiepakkies gegryp en weggehardloop.
“Ek was woedend gewees! Ek het uit my kar geklim en eers gekyk of my dogter nie iets oorgekom het nie. Sy het gelukkig op die agterste sitplek gesit. Daarna het ek om hulp geroep, maar niemand het ‘n vinger gelig nie! Selfs ‘n polisievoertuig het verbygery, sonder om te stop.”
Die boemelaar het intussen deur die inkopiesentrum gehardloop, met die handsak en pakkies. Me. Debbie van Rensburg, wat by Truworths in die sentrum werk, was juis in daardie stadium besig om die winkel te sluit, toe die boemelaar in haar rigting aangesnel kom.
Debbie het vinnig die situasie opgesom, nadat sy gesien het sekuriteitswagte is besig om die man te jaag. Sy het ‘n brawe poging aangewend om die boemelaar te stop en hom aan sy arm gegryp.
Die boemelaar het al die pakkies en die handsak soos ‘n warm patat laat val, losgeruk en weggehardloop. Die sekuriteitswagte het hom agterna gesit, maar kon nie daarin slaag om hom te vang nie.
Debbie het dadelik vir Nettie opgespoor, waar sy nog al die tyd by die vierrigting kruising gestaan het, en haar besittings aan haar terugbesorg.
Sowat twee weke voor die voorval was Debbie se dogter ook ‘n slagoffer van ‘n identiese voorval en is haar selfoon uit haar motor gesteel.
“Omdat ek verstaan watter skok dit is vir iemand om só iets oor te kom, het ek geweier dat Nettie en haar dogtertjie verder ry. Ons is eers na my huis toe en het rustig ‘n koppie koffie gedrink.”
Met die hulp van haar ma het Debbie al die glasstukke uit Nettie se voertuig verwyder en die venster met kleeflint en ‘n swartsak toegebind, sodat hulle darem weer terug kon bestuur.
Nettie het na afloop van hul nare ondervinding haar dank uitgespreek teenoor die hulp en bystand wat sy ontvang het van Debbie en haar familie.
“Sonder haar sou ek gesukkel het om weer terug by die huis te kom en sou ek tien teen een my handsak met al my persoonlike besittings daarin, verloor het.”

ADVERTISEMENT:
