ADVERTISEMENT:

 

Ons kinders is van ons weggeruk

 

News  Date: 02 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Dit is stil by die Du Preez's se huis. Orals is daar foto's van klein Dewald en Chantelle - pa Boela en ma Helén se lieflingskinders. Dit is moeilik om te glo dat hulle nie weer sal huis toe kom nie.

"Hallo Andries," groet Boela as ek deur sy voordeur stap. Nog helder in my geestesoog sien ek hom en Helén waar hulle magteloos en bedroef by hul kinders se lewelose liggaampies sit. Oomblikke vantevore het Dewald en Chantelle nog al babbelend met mekaar sit en klets agter op die bakkie waarmee Chris Groenwald, 'n boesemvriend van die familie, die twee by Laerskool Louis Trichardt gaan oplaai het. Dit was laatmiddag, net voor vyfuur. Chris het dit al soveel keer vantevore gedoen. Saam voor in die bakkie was die vyfjarige klein Marco Venter, die Du Preez's se peetkind.

Dit het in 'n oogwink gebeur. 'n Weghol-vragmotor, wat se remme in die berg onklaar geraak het, het teen hoë spoed met Chris se bakkie gebots. Chris was besig om die vierrigting-kruising by Safari Motors oor te steek. Dewald en Chantelle het die volle impak van die botsing geabsorbeer en is op slag dood. Marco en Chris het wonderbaarlik met ligte besering aan die ongeluk ontkom.

Boela wys my na hul sitkamer. Orals hardloop hondjies rond.

"Daardie een was Dewald s'n. Die kleintjie was Chantelle s'n," sê Boela. Hy is heel kalm. 'n Mens kan sien hy het begin vrede maak met wat gebeur het. In my eie gemoed, soos baie ander mense, worstel ek egter steeds met die hoekoms en waaroms van Donderdag, 25 Maart.

"Weet jy," sê Boela, "ek het ook gevra hoekom. Hoekom moes die Here altwee my kinders vat. Skielik was dit asof 'n stem vir my sê, 'As jy as ouer kon kies watter een moes bly lewe, watter een sou jy kies?' Om eerlik te wees, ek sou nie kon kies nie. Daarom het die Here besluit om altwee te vat."

Helén sluit by Boela aan. Beide rook, maar Boela sê hy rook die afgelope week baie meer as gewoonlik.

Dit is 'n moeilike gesprek, maar kort-kort glimlag en lag Boela en Helén, want hulle onthou hoe ondeund Dewald was, met Chantelle wat altyd gelag het. Dit is goue herinneringe.

"My kinders was goeie kinders. Die Here het besluit hy het hulle nodig, eerder as iemand ander se kinders," sê Helén.

Oor wie verantwoordelik was vir die ongeluk kan baie gesê word.

"Chris voel dit is sy skuld. Kort-kort sê hy hy is jammer. Ek kan sien die ding vreet aan hom. Ek het al gevoel om hom vas te druk en te sê "Chris, hou op verskoning vra. Ons weet dit is nie jou skuld nie!" sê Helén.

Boela vertel dat hy eers woedend was vir die bestuurder van die vragmotor. Nou is hy nie meer so seker nie. Hyself ken van swaar vragmotors en sê hy het ook al kanse met swaar vragte oor bergpasse gevat.

"'n Mens vat maar 'n kans. Dit kan met enige iemand gebeur," sê hy. Hy voel egter dat die regering 'n groot bydrae het tot sy kinders se dood.

"As dit ons ons kinders se lewens gekos het om 'n verandering te maak, die probleem van vragmotors in die bergpas op te los en moontlik ander ouers die hartseer te spaar, dan is dit die moeite werd. Dit klink wreed, maar ek wens niemand dit toe wat ons nou moet deurmaak nie."

Helén en Boela mis hul kinders.

"In die dag gaan dit goed. Die stilte is erg, veral in die aand. Steeds wil mens nog hulle gaan nagsoen," sê die egpaar. Boela voeg by: "Daar lê nog vir ons 'n moeilik tyd voor. Ek moet nog my kinders by die polisiestasie gaan uitken – blykbaar 'n formaliteit wat moet afgehandel word. Dan is daar nog die begrafnis."

Chantelle en Dewald word Donderdag, 1 April, om 14:00 vanuit die Haantjiekerk op Louis Trichardt begrawe. Die diens word waargeneem deur pastoor Dippenaar van die PPK.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines