ADVERTISEMENT:

 

Die ongeluk wat Sondag gelei het tot die dood van die waarnemende hoof van die Departement van Plaaslike Regering en Behuising in Limpopo, me. Mihloti Hetisani. Regs kan gesien word hoe omstanders oomblikke na die ongeluk op die Elim-pad nader gestorm het om Hetisani se voertuig van die vlamme af weg te kry. In hierdie stadium was sy steeds vasgepen in haar motor se wrak. Sy moes uitgesny word en het later dieselfde dag aan haar beserings beswyk.

Padslagting eis sewe

 

News  Date: 19 June 2009

 

Terwyl meeste inwoners hul langnaweek rustig geniet het, het lede van die nood- en reddingsdienste op Louis Trichardt hul hande vol gehad met ‘n vloedgolf van ongelukke op die streek se paaie.

Altesaam sewe mense, insluitend ‘n driejarige dogtertjie, is in die padslagting dood.

Vroeg Vrydagoggend is vyf leerlinge beseer, waarvan twee ernstig, nadat hul skoolbus met ‘n passasiersbus op die Elim-pad gebots het. Die bestuurder van die passasiersbus was alleen in die voertuig. Hy het vertel dat hy onderweg was na Elim, toe hy die skoolbus (wat na Louis Trichardt onderweg was) voor hom gewaar het. Daar was digte mis. Hy het uitgeswaai om ‘n botsing te voorkom, maar die skoolbus, wat besig was om ander voertuie verby te steek, het in dieselfde rigting uitgeswaai. Die twee busse het mekaar feitlik tromp-op getref, waarna die skoolbus omgeslaan het.

Byna terselfdertyd is berig ontvang van ‘n massiewe ongeluk tussen ‘n brandstoftenkwa en minibus-taxi net verby Matoks op die N1 suid. Die brandstoftenkwa het in vlamme uitgebars. Een persoon is in die botsing dood, terwyl twee ernstig beseer is. Die ongeluk het tot gevolg gehad dat die N1 vir ‘n groot gedeelte van die dag gesluit is vir verkeer. Ook hier het die digte mis blykbaar ‘n rol gespeel.

Saterdagmiddag is ‘n driejarige dogtertjie en nog vier mense dood in ‘n gru-ongeluk naby die Adam’s Apple Hotel, weereens op die N1 suid. Die ongeluk het plaasgevind nadat die bestuurder van die voertuig waarin die dogtertjie en haar ouers op reis was, ‘n ander voertuig verbygesteek het en tromp-op met ‘n aankomende bakkie gebots het. Volgens die polisiewoordvoerder op Bandelierkop, konst. Michael Ramasimu, is die dogtertjie en die bestuurder op die toneel oorlede, asook die bestuurder van die bakkie en drie van sy passasiers.

Die insittendes van die bakkie was blykbaar Zimbabwiërs onderweg na Johannesburg. Die ongeluk Saterdagmiddag is voorafgegaan deur twee ongelukke gedurende die vroeë oggendure dieselfde dag op die N1 noord. ‘n Vragmotor het omgeslaan in die berg kort voor die Ingwe Hotel, terwyl ‘n Zimbabwiese man beheer verloor het oor sy voertuig naby die Boabab-tolplaza en sy voertuig omgeslaan het.

Sondagmiddag het die padslagting voortgeduur. Die polisie ondersoek tans ‘n saak van strafbare manslag, nadat die waarnemende hoof van die Departement van Plaaslike Regering en Behuising in Limpopo, me. Mihloti Hetisani, dood is in ‘n ongeluk op die Elim-pad.

Hetisani was deel van ‘n konvooi wat die LUR van Plaaslike Regering en Behuising, mnr. Soviet Lekganyane, na ‘n vergadering oor dienslewering op Mpheni naby Elim vergesel het. Haar voertuig het omstreeks 14:00 met ‘n aankomende afleweringsvoertuig gebots op pad terug van die vergadering. Ook hierdie vragmotor het aan die brand geslaan. Volgens inligting het ‘n verkeersbeampte wat die konvooi vergesel het, die ongeluk veroorsaak. Hetisani moes uit die wrak van haar voertuig gesny word. Sy het nog geleef, maar het later dieselfde aand aan haar beserings in die Elim Hospitaal beswyk.

Op Jeugdag (16 Junie) is ‘n verdere twee vrouens ernstig beseer, nadat die voertuig waarin hulle op reis was vir een of ander duistere rede die pad verlaat, bo-oor die veiligheisdriehoeke gery het en van agter onder ‘n stilstaande bus ingejaag het. Die ongeluk het sowat 20km van Louis Trichardt op die Levubu-pad plaasgevind. Beide vroue is vir mediese behandeling na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gejaag.

Na afloop van die slagting op die streek se paaie die afgelope naweek het die burgemeester van Louis Trichardt, rdl. Mavhungu Luruli, ‘n beroep gedoen op motoriste om gehoor te gee aan padreëls en –tekens. Sy het ook gevra dat daar veral in digte mis versigtig bestuur moet word. Luruli het ook ‘n dringende beroep gedoen op lede van die publiek om nie in te meng met die werk van nood- en reddingsdienspersoneel op ongelukstonele nie.

 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines