

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die stappe wat 'n grondeienaar geneem het om werkers wat op sy betrokke plaas woonagtig was af te sit, is die afgelope week deur die Appèlhof as billik beskou. Dié hof het 'n aansoek om appél van een van die werkers wat teen die gebeure kapsie gemaak het, afgewys en die Hof van Grondeise se bevinding dat die optrede billik was, bekragtig.
Regsgeleerdes het die Appèlhof se uitspraak as baie insiggewend beskryf, veral in die lig van die baie wanpersepsies wat rondom die kwessies bestaan.
In die betrokke saak is 'n groep werkers in 1998 versoek om hul huise op die plaas te ontruim. Dit het gevolg nadat die eienaar van die plaas sy werksmag verklein het. Die boer moes die hof nader om 'n uitsettingsbevel om van die werkers sover te kry om hul wooneenhede te ontruim.
Vier van die werkers het die aansoek teengestaan en die saak is later in die Grondeisehof aangehoor. Die boer se aansoek om 'n uitsettingsbevel is weer bekragtig en slegs een van die werkers, 'n 58-jarige vrou, is toegelaat om teen die uitspraak te appelleer.
In die Appèlhof se uitspraak word die omstandighede waartydens werkers van 'n plaas afgesit kan word, breedvoerig verduidelik. Die betrokke wet reguleer die uitsetting van werkers op plase en bepaal sekere omstandighede waarvolgens grondeienaars nie die reg het om werkers of voormalige werkers van plase te laat verwyder nie. Die vyf regters het veral gekyk na die gevolge wat die uitsettingsbevel vir die verskillende partye inhou.
Een van die sleutelbepalings van die wet wat deur die werkers geopper is, is dat 'n plaaswerker wat 60 jaar oud is en 10 jaar diens op 'n plaas het, nie van die plaas afgesit mag word nie. In die Appèlhof is aangevoer dat dié bepaling nie te eng beskou moet word nie en persone van 59 en 58 jaar moet ook ingesluit word. Die 58-jarige vrou se regsverteenwoordiger het aangevoer dat die gees van die wet die bedoeling het om persone soos sy te beskerm.
Die Appèlhofregters het egter nie saamgestem nie en gesê die riglyn word duidelik in die wet neergepen en daar word nie gevra vir verdere interpretasie ten opsigte van die ouderdom nie.
Die hof het egter ook gekyk na die omstandighede rondom die afsetting van werkers. In die uitspraak word gemeld dat verskeie werkers afgesit is na 'n proses van rasionalisasie gevolg is. Een spesifieke werker is dus nie uitgesonder met die moontlike doel om haar verblyfreg in gedrang te bring nie. Die plaaseienaar het haar 'n tydelike werk aangebied wat haar sou toelaat om as werker op die plaas aan te bly. Sy het dit egter nie aanvaar nie.
Die verantwoordelikheid berus ook by die plaaseienaar om alternatiewe akkommodasie te soek vir die afgesette werkers binne 'n periode van nege maande. In dié opsig het die hof bevind dat geen van die partye moeite gedoen het om alternatiewe verblyf te soek nie. Die grondeienaar het egter die wooneenhede nodig gehad om seisoenwerkers te akkommodeer. Die feit dat die vrou by haar familie geakkommodeer kon word, is egter as voldoende bewys aanvaar dat sy nie sonder 'n heenkome gelaat sou word nie.
Die Appèlhof het skerp kapsie gemaak teen die "absurde en nalatige" wyse waarop die 58-jarige vrou se saak hanteer is. Die aansoek om appél is maande na die verstrykdatum eers ingedien. "Ons kan egter nie 'n ongeletterde, onopgevoede en arm vrou straf vir die verwerplike en onaanvaarbare gedrag van haar prokureurs nie," het die regters gesê. Om dié rede het die Appèlhof moeite gedoen om te bepaal of die vrou se regte misken is en of sy toegelaat moes geword het om op die plaas aan te bly.
(Die saak is hanteer deur André Naudé van Coxwell, Vise & Naudé Prokureurs namens die boer)

ADVERTISEMENT:
