

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 June 2009
Totale chaos en stukkende toerusting op die vloer het die personeel van Biscuit King op Louis Trichardt begroet op Maandagoggend hierdie week.
Die polisie was flink op die toneel om ondersoek in te stel en later het die vingerafdrukdeskundiges ook gekom. Daar was meer as genoeg vingerafdrukke, want skelm se kind het klaarblyklik genoeg tyd gehad om daar ‘uit te kamp’, te smul, sigarette te rook en verwoesting te saai.
Die bakker, mnr. Godfrey Mavhungu, het vroegoggend ingekom om te begin bak en eerste die gemors gesien. Daarna was die bestuurder, mnr. Johan Oberholzer, op die toneel en het op versoek van die eienaar, me. Elmarie du Preez, die polisie laat kom.
Du Preez het met haar aankoms die stukkende goed rondgestrooi gesien en die totale moedswilligheid van die inbrekers het haar opgeval.
“Hulle het tot die luidsprekers in die kookolie gegooi en die voedselverwerker gebreek,” sê Du Preez. ‘n Selfoon van ‘n werknemer lê stukkend getrap op die vloer.
Die winkel is geleë in die Checkers-arkade. Die inbrekers het toegang verkry by die agterste deur wat op ‘n stegie uitloop. Die deur en die ysterhek is oopgeforseer. Daarna is hulle waarskynlik reguit na die voorste deel van die winkel waar hulle die laaie se inhoud op die vloer uitgegooi het en die kasregister laai uitgebreek het. Daar was net kleingeld in, maar die laai is duur om te vervang. ‘n Poging is aangewend om die kluis oop te breek, maar hulle het nie daarin geslaag nie. Die kluisdeur is egter sodanig beskadig dat dit nie later weer kon toesluit nie.
Dit lyk of daar toe ‘n inbreker-partytjie met koekies, koeldrank, kaas en pasteie in die agterste gedeelte van die winkel was. Musiektoerusting en bykomstighede van die voedselverwerker, ‘n sakrekenaar, ‘n koelsak, winkelprodukte en ‘n bril van ‘n werknemer is van die eerste goedere wat vermis word.
“Hulle hele optrede lyk vir my onsamehangend, so asof hulle dalk gerook was,” sê Du Preez.
Die winkel betaal maandeliks ‘n bydrae aan die eienaar van die sentrum, sodat daar voltyds ‘n wag op diens moet wees vir die kompleks.
Hoewel die diefstal en skade aan die deure en toerusting groot is, is die grootste verlies die omset en bestellings wat verloor word met die sake-onderbreking, veral na die naweek en die dag voor ‘n publieke vakansiedag. Die voorlopige skade, saam met die verlies van omset, word bereken op amper R50 000.
“Tog voel ek die Here het my bewaar van groot skade en my liggaamlik bewaar, aangesien ek normaalweg oor ‘n naweek altyd iets by die winkel gaan doen,” sê Du Preez.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
