

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 June 2009
“Makandene … boer van Soutpansberg, jou stem is stil” lui ‘n roerende gedig wat voorgelees is tydens die dankdiens vir die lewe van die legendariese oom Hans Lombard.
Hierdie pionier van die plaas Sandfontein, dinamiese besigheidsman en geliefde kerk- en gesinsman, se stem het na 87 jaar en 9 maande stil geword op Vrydagaand, 12 Junie.
Die dag tevore het oom Hans en tannie Hester hul sestigste huweliksjaar herdenk.
Hans Jurgens Lombard is op 11 September, 1921, in Cradock gebore en het op sewejarige ouderdom saam met sy gesin in die Soutpansberg kom woon. Later het hy die familieplaas gekry en hy en sy bruid het die plaas getem met ongelooflike deursettingsvermoë. Hans het persoonlik die dam op die plaas gebou en ook herbou na ‘n sikloon dit verwoes het. Met die avokados, pekanneute en hoenderboerdery het Hester as boervrou saam haar slag gewys, terwyl Hans baie jare ook nog met beeste by Kranspoort geboer het. Tot op 60 het oom Hans die bekende vervoerbesighede Stasie Vervoer en Sandfontein Transport bedryf.
Oom Hans was nie net ‘n bekende en interessante figuur onder sy eie volksgenote nie. Tannie Hester onthou dat die Vendas as’t ware die grond aanbid het waarop hy geloop het en hom as Groot Kaptein aangespreek het. Hy het Venda gepraat met dieselfde idioom en intonasie as ‘n Venda en die kultuur van binne geken.
Sy bynaam, Makandene, beteken “hy slaan eers, dan praat hy” en daar is dié wat kan getuig dat hulle eerder die goeie, smal weg gekies het nadat hy met hulle afgereken het. Hy het ‘n bulderende en groot stem gehad, maar sy hart was nog groter.
“Hy was so vas en so sterk soos ‘n rots, maar nie hard nie; hy het altyd geglimlag,” onthou dogter Noëlene. Tot by Loeriepark waar oom Hans die laaste ruk gewoon het, het Vendas hulle weg na hom gevind en op die stoep by hom gesit en kuier, nadat hulle oral gevra het waar om Makandene te kry.
Oom Hans is tuis oorlede waar tannie Hester hom tot op die einde getrou versorg het. Hy het sy bobeen 18 maande gelede gebreek en het vanjaar begin agteruitgaan. Hy is aan hartversaking oorlede, nadat hy ‘n moeilike laaste week beleef het.
“Ek sal Hans altyd as ‘n getroue eggenoot onthou. Ons het mekaar vertrou,” verklap sy bruid van 60 jaar hul huweliksgeheim.
Diep spore is deur oom Hans getrap as gelowige en kerkman. Hy was aan die voorpunt met die bou van die NG Kerk Soutpansberg in 1954 en hy het ook ‘n groot rol gespeel om ‘n geskiedkundige kerkklok by die gemeente uit te kry vir die kerk se 21-jarige feesviering. Die Lombards het ook toegesien dat die evangelie weekliks gebring is aan al hul plaaswerkers.
“Deur middel van die Elize Sendingfonds, vernoem na hul dogtertjie wat op 8 oorlede is, help die Lombards ongelooflik baie mense oraloor, ook sendelinge en evangeliste,” sê hul leraar, dr. Philip Venter, wat die diens op Maandag, 15 Junie, waargeneem het.
Oom Hans laat sy eggenote, Hester, dogter en skoonseun, Amanda en Hermann Jansen van Rensburg, en kleinseuns Jurgens (27) en Christoff (23), asook dogter en skoonseun, Noëlene en Somerset Morkel, en kleindogter Nola (16), agter.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
