ADVERTISEMENT:

 

Kerk groei te midde van Zim-krisis

 

News  Date: 19 June 2009

 

“Die hele Zimbabwe is besig om inmekaar te tuimel, maar ‘Jerusalem’ is besig om daar te verrys,” het prof. Koos van Rooy, veteraan sendeling en Bybelvetaler, verlede Sondag op Louis Trichardt gesê.

Prof. Van Rooy het ‘n erediens in die Gereformeerde Kerk op die dorp gelei, wat ook deur verskeie Zimbabwiërs bygewoon is. Talle van die besoekers was belydende lidmate van die Reformed Church in Africa, wat hulleself tans haweloos gestrand op Louis Trichardt bevind.

Hy het verwys na die beduidende groei in die kerk in Zimbabwe te midde van die ernstige krisissituasie wat die land en sy inwoners op haas elke vlak beleef. Op plekke in die land waar die kerk voorheen ‘n sukkelbestaan gevoer het, word daar nou fenomenale groei beleef.

Hy het die gemeente en besoekers gewys op die belangrikheid daarvan om huidige lyding en ontbering met ‘n gelowige toekomsverwagting te beleef en om met vertroue te wag op die Hoërhand.

Sy boodskap was gegrond op skrifgedeeltes uit Jesaja 40 en Hebreërs 12, wat deur jeugdige lidmate van die plaaslike gemeente voorgelees is.

Prof. Van Rooy het sy boodskap deurlopend in Venda en in Engels aangebied in die Songwozi-gemeente van die Gereformeerde kerk op Louis Trichardt. Die gemeente het onlangs sy totale kollekte by twee eredienste bewillig vir noodlenigingswerk onder die hawelose Zimbabwiërs op die dorp.

Die Zimbabwiërs, waarvan sommige nog uitgeput en verflenterd was ná ‘n drie-dae-lange staptog oor 100km vanaf Beitbrug, is vroeër soos eregaste onthaal tydens die gemeentelike ete, waarheen hulle hartlik uitgenooi was.

 

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines