ADVERTISEMENT:

 

Die sprankelende Edna Prinsloo, wat hierdie week 13 word, is verlede week met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer. Foto verskaf.

Nog ‘n ouerpaar kry leukemie-skok

 

News  Date: 26 June 2009

 

Nog ‘n gesin van Louis Trichardt se lewens is tot stilstand geruk met die diagnose van leukemie by hul jong dogter.

Edna Prinsloo verjaar op Donderdag, 25 Junie. Sy vier haar dertiende verjaarsdag in die hospitaal waar sy vir vyf weke intensiewe chemoterapie ontvang.

Alles het so skielik gebeur. Ma Christine het agtergekom dat Edna duiselig word as sy netbal speel. Sy het eers vir Edna ‘n ekstra broodjie ingepak skool toe, omdat sy na skool bly vir haar sportbedrywighede. Later het hulle ysteraanvullings probeer en dit het beter gegaan by die netbal.

Sondag (14de) het Edna egter begin kla van pyn in haar linkerarm en toe die arm die volgende dag begin swel, het sy haar geneem vir mediese ondersoek en plate. Die plate het niks gewys nie en sy is met pynmedikasie huis toe. Dit het erger geword en Edna het kort-kort so gehuil van die pyn, dat Christine haar Woensdag nie laat skool toe gaan het nie.

Dié Donderdag het Edna se voet ook begin seer raak en swel.

“Sy het gaan eksamen skryf, maar my laat belowe dat ek haar sal kom haal. Ek het haar 08:30 by dr. Casper Venter gehad. Hy het gesê dat haar toestand nie normaal is vir ‘n kind nie en bloed moes by haar getrek word,” het ma Christine gesê. ‘n Uur en ‘n half later het Christine die oproep van die dokter ontvang om haar te waarsku dat verdere toetse gedoen moet word.

Die middag het hulle die skoknuus gehoor dat die uitslag dui op leukemie. Christine het Edna inderhaas Vrydag (19de) Pretoria toe geneem na die Little Company of Mary Hospitaal in Pretoria om beenmurg te trek. Die diagnose was akute limfoblastiese leukemie, dieselfde kanker as waarteen die driejarige Reinhardt Smit stry.

Edna het Maandag mondelingse chemoterapie gekry en is Dinsdag teater toe om ‘n toestel te ontvang om voortaan binne-aarse chemoterapie te ontvang. Sy het ook ‘n virusinfeksie. Die behandelingsplan vir die leukemie is dat sy ná die vyf weke intensiewe terapie, elke maand vir ‘n week lank chemoterapie sal ontvang vir die volgende twee jaar.

Christine, wat ‘n assistent bestuurder by P&L Hardeware is, moes Edna in die hospitaal agterlaat en terugkom na Louis Trichardt. Sy het ook Hillette (15), Chirsja (9) en JP wat een van die dae vyf word, om te versorg. Gelukkig kon Edna se pa, wat in Oos-Londen woon, Pretoria toe gaan om hierdie week by haar te wees. Christine beplan om tydens die skoolvakansie heeltyd by Edna in die hospitaal te wees.

Intussen het Christine inwoners se voorbidding gevra vir Edna en die familie.

“Jou lewe kom skielik tot stilstand en bring jou tot die besef dat dit ‘n ontsettende duur prys kos om jou tot jou knieë te dwing. Om te besef dat eintlik niks in die gejaagde lewe meer sin maak nie, behalwe dit wat jou die naaste aan die hart lê. Ek weet uit ondervinding dat weelde en luukshede waarvoor jy so gejaag het, jy oornag kan verloor. As jy mekaar het, het jy als,” skryf Christine in ‘n e-pos.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines