ADVERTISEMENT:

 

Brandende doodskis laat polisie kopkrap

 

News  Date: 26 June 2009

 

‘n Lid van die publiek het verlede Donderdag (18de) die polisie verras met ‘n vreemde boodskap – daar lê ‘n brandende doodskis op die Ledig-pad buite Louis Trichardt.

Die polisie het kort na hul aankoms op die toneel die brandweer ontbied om die doodskis, wat aan die binnekant in vlamme was, te kom blus. Die vrees was dat dit moontlik ‘n aangrensende boer se weikamp aan die brand kon steek. Die groot vraag was toe of daar ‘n lyk binne die kis was?

By verdere ondersoek is daar vasgestel dat die kis geen lyk bevat het nie. Daar was egter heelwat leë drankbottels binne-in, asook om die kis. Ongeveer 30 bottels is buite die kis getel, waarvan party deur die polisie uit die kis gehaal is.

Dié raaiselagtige fonds het die polisie laat kopkrap. Die toneel en omliggende area is gefynkam om vas te stel of daar nie dalk wel ‘n lyk in die kis was wat uitgeval het nie, maar hul soektog het niks opgelewer nie.

Insp. V. M. Makhubele, wat een van die eerste mense op die toneel was, sê hy en van sy kollegas het vroeër die dag die pad gepatrolleer en niks verdag opgemerk nie. Dit was eers nadat hulle die oproep gekry het, dat hulle weer na die pad teruggekeer het en die bolle rook al van ver af kon sien.

Makhubele het ook gesê dat dit die eerste keer is dat hy op so ‘n raaiselagtige verskynsel afkom.

Polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het ‘n beroep gedoen op plaaslike lykshuiseienaars om na vore te kom indien hulle kan help om vas te stel waar die kis vandaan gekom het.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines