ADVERTISEMENT:

 

Wyle dr. Wim de Villiers (60).

Geliefde dokter se dood kom as skok

 

News  Date: 03 July 2009

 

Familie, vriende en pasiënte is erg geskok oor die skielike dood van ‘n bekende dokter van Louis Trichardt, dr. Wim de Villiers.

Vrydagnag het dr. Wim se eggenote, Marica, en sy dogter, Nada, hom teen ‘n hoë spoed gejaag na die Limpopo Medi-Kliniek waar hy Saterdagoggend omstreeks vyfuur ‘n noodoperasie ondergaan het vir ‘n obstruksie in die kolon. Hy is Sondagaand, 28 Junie net na 20:00 oorlede.

Die sestigjarige dr. Wim is op 13 Mei vanjaar gediagnoseer met kolonkanker.

“Wim het die dag van die diagnose vir my daarvan vertel, maar wou nie gehad het dat ek die nuus versprei nie. Hy wou nie bejammer word nie, daarom het hy vir niemand gesê nie,” sê Marica. Hulle kinders het eers twee dae voor sy dood van sy terminale kanker uitgevind.

Pasiënte het opgemerk dat dr. Wim erg gewig verloor het die afgelope tyd, maar die meeste het dit aan moontlike longprobleme toegeskryf.

“Ons sou hom so graag wou groet,” het een van sy jarelange pasiënte opgemerk.

Gelukkig kon dr. Wim se kinders hom almal groet. Nada, ‘n veearts op die dorp, was die heeltyd saam met ma Marica aan haar pa se sy by die hospitaal. Mariska, wat in die Kaap woon, het reeds in Louis Trichardt aangekom vir ‘n jaarlikse kuier en vlieënier Gerhard is ontbied en het betyds ‘n vlug gehaal na Polokwane om te groet.

Dit was vir die gesin ‘n wonderlike ervaring toe vier Hawks van die Lugmagbasis Makhado Maandagmiddag ‘n erevlug vir oorlede dr. Wim oor hulle huis gedoen het.

“Wim het vir my gesê dat hy die laaste drie maande amper elkeen in sy praktyk gesien het. Hy het soms tot 36 pasiënte per dag gesien,” sê Marica.

Sy pasiënte sê dat hy ‘n wonderlike dokter was wat elkeen behandel het asof hulle sy familie was.

“Hy was ‘n eerlike en reguit dokter, ‘n vriend vir ons, ‘n dokter wat nog tuisbesoeke gedoen het. Ons sal hom nie kan vervang nie,” sê ‘n pasient.

Dr. De Villiers het in 1975 na die praktyk in Louis Trichardt gekom toe sy pa, ou dr. Wim, se gesondheid verswak het. Sy eintlike begeerte was om in Ginekologie en Verloskunde te spesialiseer. Moeders wie se babas hy in die lewe gebring het, weet dat hy net daardie spesiale aanslag in die kraamsaal of teater gehad het.

“Daar was altyd ‘n baba op pad. Daarom het hy nooit met vakansie gegaan nie,” onthou Marica.

Willem de Villiers is op 28 September 1948 in Louis Trichardt in die ou kraaminrigting, die huidige Zoutpansberg Privaathospitaal, gebore. Hy was in 1966 hoofseun van Louis Trichardt Hoërskool. Na ‘n jaar in die weermag is hy na Stellenbosch Universiteit, waar hy sy mediese opleiding ondergaan het, maar ook sy bruid, ‘n fisioterapeut, ontmoet het. Wim en Marica is op 2 Desember 1972 getroud.

Dr. De Villiers was lief vir rugby en het vir sy universiteit gespeel. As kranige muurbalspeler het hy die provinsiale veterane span gehaal en in 1996 het hy nasionale kleure in boogskiet verwerf.

“Hy was die beste man en beste pa ooit. Hy het sy alles vir sy kinders gegee,” sê Marica. Ousus Mariska voeg by dat haar pa haar held was en dat sy hom dag of nag kon bel.

Dr. De Villiers laat sy eggenote, Marica, sy kinders Mariska (34) getroud met William Harston Lilly, Gerhard (31) en Nada (25), asook twee kleinkinders Mika Lilly (1) en WG de Villiers (3) agter.

Die dankdiens vir hom vind plaas op Donderdag, 2 Julie, in die NG Kerk Soutpansberg en word gelei deur dr. Philip Venter.

Die gesin bedank elkeen in die gemeenskap wat hulle so onbaatsugtig ondersteun het met besoeke, oproepe, SMSe, blomme en spyse. Hulle sê ook spesiaal dankie aan die narkotiseur, dr. Frans Smit, asook drs. Dawid Cronjé, Pierre Burger en André van de Walt.

“Dankie ook aan Wim se beste vriend, Louis van den Heever, aan sy ontvangsdame, Joan Joubert, aan al sy getroue pasiënte, aan my kinders en Billy en Geoff, ons skoonseun en aanstaande skoonseun, aan dr. Philip Venter en die Soutpansberg-gemeente, Dalene van Niekerk en die Agapé-gemeente, Elmien van der Goot, Jan Brink van AVBOB en aan al ons kosbare vriende,” sê Marica.

 

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines