

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 July 2009
“Ma’s weet as daar iets fout is met haar kinders.” Dit was die woorde van mev. Annemarie Lourens van Louis Trichardt, nadat haar dogter en dié se vriendin in ‘n motorongeluk betrokke was verlede Woensdag, 24 Junie.
Liezel Lourens het haar vriendin, Chatrine van Dyk, gou by die huis gaan aflaai. Hulle het altwee sommer met Liezel se bromponie gery.
Die twee maats was besig om in Kockstraat af te ry en het by die Rissikstraat-kruising gestop. Liezel was besig om die kruising oor te steek toe ‘n voertuig uit die rigting van Tshikota die stopteken verontagsaam en haar bromponie getref het.
Liezel is deur die lug geslinger en het die voorruit van die motor getref. In die proses is haar valhelm in die middel deur gekraak. Die bestuurder van die motor was ongeskonde.
Liezel moes egter in die hospitaal opgeneem word vir behandeling. Behalwe die harde stamp teen haar kop, het sy verskeie skraapmerke opgedoen, haar enkel verstuit en is twee van haar ribbes gekraak. Chatrine het effens ligter daarvan afgekom en net skraapmerke aan haar arms opgedoen.
Annemarie, Liezel se moeder, het na afloop van die ongeluk vertel dat sy nog haar dogter gemaan het om versigtig te wees as sy ‘n kruising oorsteek.
“Toe my selfoon lui en ek sien dit is Liezel wat bel, het ek dadelik geweet daar is iets fout. Ek en my man het dadelik na die toneel gehaas. Ons was verlig toe ons vasgestel het dat hulle nie ernstig beseer is nie.”
Liezel se ouers het by die ondersoekbeampte op die toneel aangedring daarop dat ‘n bloedmonster van die bestuurder van die voertuig getrek word. Volgens Annemarie het die bestuurder by die hospitaal erken dat hy voor die tyd ‘n drankie by sy huis genuttig het.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike kon teen druktyd nog nie bevestig of daar wel ‘n bloedmonster van die bestuurder geneem is nie. Hy het gesê dat die polisie ‘n saak van nalatige bestuur teen die bestuurder ondersoek.
Annemarie blameer die afwesigheid van spoedwalle vir die ongeluk. Sy sê, as ‘n gereelde gebruiker van die kruising, dat sy dikwels sien hoe bestuurders die stoptekens verontagsaam en eenvoudig net in Rissikstraat afjaag.
“Ons het al probeer om die saak onder die munisipaliteit se aandag te bring. Selfs die ondersoekbeampte in Liezel se saak het ons aangeraai om wéér die saak by die munisipaliteit te gaan aanmeld!”
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het by navraag bevestig dat die munisipaliteit wel van die probleem bewus is. Hy het ook bygevoeg dat dit nie die enigste hoë-risiko kruising in die dorp is nie.
Volgens Bobodi is daar wel voorsiening gemaak vir die aanbring van spoedwalle in die dorp en word daar net gewag vir die begroting om goedgekeur te word. Hy kon egter nie sê wanneer dit gaan gebeur nie.
Intussen moes Liezel en Chatrine, wat altwee skoolgaan by Hoërskool Louis Trichardt, verlede Vrydag hul laaste vraestel gaan skryf. Volgens Annemarie moes Liezel in ‘n rolstoel skool toe gaan, omdat sy nog te styf en seer was om te loop. Die bromponie is heeltemal aan die voorkant opgefrommel en daar is besluit om dit te verkoop vir onderdele.
“Vriende het na die tyd gesê ek moet Liezel se valhemel as ‘n aandenking hou, maar ek het die ding weggesmyt. Ek is net bly my dogter het die hele ding oorleef en is vandag nog met ons.”

ADVERTISEMENT:
