ADVERTISEMENT:

 

Troeteldierwinkel teiken van mees onlangse roof

 

News  Date: 03 July 2009

 

Limpopo Vet Shop op Louis Trichardt het Dinsdagmiddag deel geword van die statistieke wat betref plaaslike ondernemings wat die afgelope paar weke deur misdadigers geteiken is.

Dinsdagmiddag, net voor sluitingstyd, is die Limpopo Vet Shop in die sakesentrum (ou Ricky’s) in die nuwe uitbreiding beroof.

‘n Hewig-ontstelde mev. Mill Kruger, ‘n personeellid van die winkel, het vertel hoe twee netjies-geklede mans die winkel binnegekom het en haar genader het. Die mans was klaarblyklik op soek na rotgif en het navraag gedoen of die winkel dit in voorraad het. Nadat Kruger aan hulle bevestig het dat die winkel wel rotgif aanhou, is die mans eers na die supermark langsaan om kruideniersware te koop. Die mans het gesê hulle sal met die terugkomslag die rotgif kom kry.

Die twee mans het toe wel na ‘n tydjie teruggekom om die rotgif te koop. Hulle het haar gevra om vir hulle te gaan wys op watter rak die gif gestoor word.

Kruger het die mans voor na die winkel geneem en vir hulle gewys waar die rotgif is. Volgens Kruger het die mans nog vir haar verduidelik dat hulle net R20 het en dat hulle nie duur gif kon bekostig nie.

Dit was in hierdie stadium, terwyl Kruger met haar rug na die deur gestaan het, dat ‘n derde man die winkel ongesiens binnegeglip het.

Met die uitkomslag het Kruger die man probeer voorkeer en hom gevra of sy hom dalk kan help. Die man het “effens geboë en met sy hande in sy baadjie sakke” haar net geïgnoreer en die winkel haastig verlaat.

Eers toe het Kruger besef dat daar fout is. Sy het haar na haar lessenaar agter die toonbank gehaas, waar sy besig was om die dag se opbrengs gereed te maak om te bank. Die geld was egter skoonveld.

Kruger het na die twee mans gedraai wat nog steeds in die winkel gestaan het en vir hulle gesê dat sy weet hulle saam met die eerste man in die komplot betrokke is. Die twee mans is toe ook haastig by die winkel uit.

Ongeveer R3 700 is tydens die roof buitgemaak.

Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag gesê ‘n saak van diefstal word ondersoek. Hy het ‘n beroep gedoen op lede van die publiek om na vore te kom as hulle enige inligting het wat die polisie kan help met hul ondersoek. Kapt. Sadike kan geskakel word by 083 366 6598.

 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines