

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 July 2009
Die Witvlagpad/N1-aansluiting in die Soutpansbergpas was Maandag, 29 Junie, weereens die toneel van ‘n vragmotorongeluk, hierdie keer gelukkig nie noodlottig nie.
Die bestuurder van ‘n buitelandse vragmotor, wat onderweg was na Louis Trichardt, het beheer verloor oor sy vragmotor, nadat die remstelsel onklaar geraak het. In ‘n poging om die vragmotor onder beheer te kry, het die bestuurder by die Witvlag-glipweg ingeswaai.
Die vragmotor het egter die middelman getref, omgeslaan en sywaarts tot by die oorkantse hoek van die kruising geskuur. In die proses het die vragmotor sy vrag katoensakke verloor, met die kajuit wat erg opgefrommel is.
Die bestuurder, wat alleen in die vragmotor was, is ernstig beseer tydens die ongeluk en was teen druktyd steeds in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal.
As ‘n gereelde gebruiker van die Witvlag-pad is mnr. Kallie Röttcher al warm onder die kraag oor die groot hoeveelheid ongelukke wat by hierdie omstrede kruising plaasvind. Volgens Röttcher moet die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagtenskap die skuld dra vir die ongelukke. Hy sê die agentskap is al hoeveel keer gewaarsku dat weghol-vragmotors die glipweg gaan gebruik om ‘n ongeluk verder af teen die berg te vermy. Hy meen Maandag se ongeluk is ‘n tipiese voorbeeld hiervan.

ADVERTISEMENT:
