ADVERTISEMENT:

 

“Ek hoort hier, net soos enige ander mens”

 

News  Date: 03 July 2009

 

“Al wat ek in oorvloed het is eensaamheid en vrye tyd,” lui die skreiende belydenis van ‘n bejaarde wit weduwee, waarmee ‘n onlangse uitreik-aksie uit Zimbabwe teruggekeer het.

Die merkwaardige 70-jarige vrou (wat net bekend wil staan as Sue) sê sy probeer tevergeefs om met haar beskikbare vrye tyd as vrywillige werker aanvaar te word om te help met die versorging van mense in die cholera-epidemie in dié buurland.

“Ek is nou wel nie ‘n gekwalifiseerde verpleegster nie, maar ek gee om en besef hoe desperaat die situasie daar buite is. Hulle dink waarskynlik ek is te oud, maar ek is nie. My hele lewe lank het ek omgesien na gestremde dienspligtiges en weeskinders en nou na die inheemse bevolking van hierdie land.”

Sy sê sy is grotendeels selfversorgend, omdat sy spaar wat sy kan, haar eie groente kweek en klaarkom met een ete ‘n dag. Dan skilder sy ook nog en verkoop haar werke! Sy hanteer die volledige versorging van ‘n swart gesin van sewe, tesame met ‘n wit egpaar met twee babas plus nog ‘n jong alleenloper wat nie eers genoeg verdien om sy eie basiese versorging te kan bekostig nie.

“Saam vorm ons ‘n ‘gesin’ wat na mekaar omsien en doen wat ons kan om aan die gang te bly.”

Ongeag die omstandighede in Zimbabwe weier sy om op te gee.

“Daar is nog heeltemal te veel mense in hierdie land wat ‘n behoefte het aan deernis, versorging en hoop. Daar is heelparty organi-sasies wat probeer help. Die werklike oplossing lê egter daarin dat almal van ons hier – wit, swart en bruin, sal begin om vir mekaar om te gee. En ons probeer nogal. Ons is arm, maar ook baie ryk in vele opsigte, wat net begryp kan word deur mense wat dieselfde foltering moes deurmaak wat hierdie land deur die jare moes deurleef.”

Sue vertel van die angs en verskrikking van mense wie se gesinne koelbloedig vermoor is, mense wat ontvoer en wreed aangerand word, babas wat sterf, vroue wat ontvoer en mishandel word en die ontsettende vrees wat mense snags laat wakker bly om te kyk en te luister vir moontlike betreders.

Oor die politieke situasie is Sue ewe uitgesproke.

“Oral is daar foto’s van Robert Mugabe, in al die regeringsgeboue, maar niemand sien dit eintlik meer raak nie. Vol vliegspikkels en verbleik deur die son, hang hy maar net daar om ons te herinner aan die gruwels waartoe hy instaat is as ons nie doen wat hy eis nie.

“Dit kos meer as net moed. ‘n Mens het eintlik ‘n mengsel van droefheid en woede nodig om jou tot aksie aan te vuur. Dis ‘n situasie wat nie soseer vra vir meegevoel of geld nie, maar vir hoop op ‘n beter toekoms - eendag. Daar is maar min van ons mense nog hier oor, maar ons bly hier en ons sal nie weggaan voordat alles afgehandel is nie. Ek is ‘n wit weduwee. Ek het geen voorneme om pad te gee uit ‘n land waar ek my hele lewe lank al bly nie. Ek hoort hier, net soveel as enige van my anderskleurige landgenote.

“Ons smag na een of ander lig aan die einde van die tonnel, maar ons weier om wapens op te neem en ander mense dood te maak soos wat ons mense doodgemaak is. Ons wag op geregtigheid, wat nie deur ons afgedwing sal word nie, maar sal kom vanuit ‘n Hoërhand. En dit sál kom. Miskien sal die hele wêreld eendag uit ons situasie waardevolle lesse kan leer. Julle in Suid-Afrika behoort ook te besef - As dit nie vir die genade van Bo is nie, kan julle in presies dieselfde situasie beland.”

 

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines