

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 April 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Presies sewe jaar gelede was 'n dapper sesjarige dogtertjie op die voorblad van die Zoutpansberger waar sy op 'n helikoptervlug geneem is, voordat haar tweede ogie verwyder sou word.
Vandag staan Jeanne-Mari Viviers op die vooraand van haar dertiende verjaarsdag en bring sy vir haar ouers, Freek en Riana, net plesier. Haar ouer broers, Ferdie en Christi, is net so lief vir haar en die tergery bly ook nie uit nie.
Almal is trots op Jeanne-Mari, wat spog met verskeie bekers, medaljes en pryse. Sy is 'n Graad 7-leerder aan die Prinshof Skool vir Gesiggestremdes in Pretoria.
Jeanne-Mari het die trofee vir die Beste Akademiese Prestasie in die intermediêre fase vir braille leerders in 2003 verwerf. Dan het sy ook die Victor Vaughan-wisseltrofee vir die leerling met die hoogste punte in die elementêre braille eksamen behaal. Hierdie is 'n landswye eksamen en die trofee word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Blindes toegeken. Dit behels die lees van 'n stuk in braille en die oorskryf daarvan in verkorte braille. Buiten die beker, het sy ook 'n sertifikaat en 'n braille horlosie vir hierdie prestasie ontvang.
Dit is nie net in die akademie waarin Jeanne-Mari uitblink nie. Sy het ook vroeër vanjaar Gauteng Noord-kleure vir atletiek verwerf. Sy het van 22 tot 26 Maart deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir gestremdes in Durban. Daar het sy 'n goue medalje vir gewigstoot D0/14 en 'n silwer medalje in die 100m vir D0/14 behaal. Die blinde naellopers word vergesel deur 'n onderwyser.
Dit gaan ook baie goed met Jeanne-Mari se gesondheid en sy gaan slegs jaarliks vir roetine-ondersoeke.
Toe sy twee jaar oud was, het Jeanne-Mari, op 29 Junie 1993, haar eerste oogoperasie ondergaan, waartydens haar linkerogie verwyder is weens 'n seldsame vorm van kanker, retinoplastoom. Weens dieselfde siekte het sy ook haar regterogie verloor op 23 Mei 1997.
Inwoners sal nog kan onthou hoe die Reach for a Dream Foundation gehelp het om drie van Jeanne-Mari se lewensdrome te bewaarheid voordat sy haar sig finaal verloor het. Sy het oor Louis Trichardt in 'n helikopter gevlieg om te sien hoe die dorp van bo af lyk. Sy het ook op 5 April 1997 haar sesde verjaarsdag gevier met 'n groot partytjie waarop meer as dertig van haar maatjies teenwoordig was. Haar derde wens was 'n goeie musieksentrum en dit is ook vervul. 'n Besoek aan die Kruger Wildtuin is verder vir haar gereël deur die Rotariërs van Louis Trichardt.
Na haar finale operasie was Jeanne-Mari weer op die voorblad van die koerant by haar braille-masjien wat sy op 1 Julie 1997 ontvang het deur 'n fonds wat vir haar gestig is. Kort daarna het sy haar tweede kunsogie ontvang. Daarna is sy in 1998 na Pretoria om haar skoolloopbaan daar aan te pak. Op 13 Maart 1999 het Jeanne-Mari, wat toe in Graad 2 was, die volledige Bybel in braille ontvang en sy het dadelik begin met die lees daarvan.
Dieselfde selfstandigheid is steeds een van die vrolike en lewenslustige Jeanne-Mari se eienskappe. Wanneer sy uit die huis stap ná die fotosessie en buite met haar hond speel, lyk dit kompleet of sy alles kan sien.

ADVERTISEMENT:
