ADVERTISEMENT:

 

Annetjie Coetzee erken skuld aan bedrogskema

 

News  Date: 12 December 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Einde ten laaste ontvou die besonderhede van een van die grootste bedrog skemas in Louis Trichardt se geskiedenis in die Hof vir Handelsmisdade in Pretoria. Terselfdertyd duik die vraag op hoe dit moontlik is dat soveel van die dorp se beleggers vir hierdie skema geval het.

Die 36-jarige Anna Maria Magrietha Coetzee (beter bekend as Annetjie), eienaar van Louis Trichardt Finance (BK) het op 28 November in die Hof vir Handelsmisdade in Pretoria skuldig gepleit op oortredings van die Bankwet en die Wet op Skadelike Sakepraktyke. Sy sal gevonnis word op 13 Januarie 2004.

Die staatsaanklaer, me. Ilse Grobler, sê dat hulle solank voortgegaan het met die maklik-bewysbare statutêre oortredings. Dit is nie uitgesluit dat daar nog verdere klagtes, soos bedrog en oortredings van die insolvensiewet, geformuleer sal word nie. Me. Grobler verduidelik dat die insolvensieproses apart van die strafondersoek staan en dat hulle nie onbepaald kon wag vir die verslae nie.

Intussen gaan mnr. André Engelbrecht, wat ook betrokke was by Louis Trichardt Finance BK, asook by Sunko Finance BK, nie pleit nie. Hy sal op 4 en 5 Februarie in Pretoria verhoor word op aanklagte van bedrog, oortredings van die Bankwet, asook die Wet op Skadelike Sakepraktyke.

Louis Trichardt Finance (BK) het ongeveer sewe jaar gelede in bedryf gekom. Die kantoor was geleë in die Maranathasentrum in Burgerstraat, ironies genoeg reg langs die polisie se Moord- en Roofafdeling. Die naamborde van Louis Trichardt Finance is nog nie verwyder nie, alhoewel die besigheid in Februarie 2001 voorlopig gelikwideer is.

Die bedrag wat betrokke is, word beraam op ongeveer R8 miljoen en meer as 120 beleggers het vir hierdie skema geval.

Coetzee het vir ongeveer vier jaar lank 'n mikroleningsonderneming bedryf, wat uiteindelik in 'n piramideskema ontaard het. Coetzee het haar beleggers 5 tot 10 % rente per maand op hulle beleggings beloof. Sy sou hulle beleggings gebruik om geld uit te leen aan die kliënte van haar mikroleningonderneming, teen 30% rente per maand. Daar was egter nie genoeg lenerskliënte gewees nie. Beleggers se geld is gebruik om rente uit te betaal aan ander beleggers. Soos die skema gegroei het, is al meer en meer beleggers gelok om die skema aan die gang te hou. Uiteindelik het die skema platgeval en die laaste rentebetalings is gemaak in November 2000.

Coetzee se woorde aan sommige van die beleggers toe hulle hul geld kom vra het in Desember 2000 en Januarie 2001, was: "Ek weet nie waar die geld is nie. Ek het nie julle geld gevat nie. Ek het niks verkeerd gedoen nie."

Die beleggers was hoofsaaklik afkomstig uit die omgewing. Onder die beleggers was prominente sakemanne, boere, oud-bankbestuurders, onderwysers, professionele persone, pensioenarisse, weduwees en kinders. Die trauma en ontberings wat gely is as gevolg van groot finansiële verliese kan moeilik gemeet word. Van die pensioenarisse het al hulle pensioengeld verloor en moes by ander mense om hulp aanklop vir hulle lewensonderhoud. Ander pensioenarisse het weer begin werk. Mense moes hulle huise verkoop, ander se boedels is gesekwestreer.

Na die likwidasie in Februarie 2001, het die insolvensieondersoeke gevolg, waarvoor die beleggers weereens geld moes bydra as gevolg van die feit dat die Louis Trichardt Finance BK gedreineer was. Aanvanklik het Corporate Liquidators as likwidateurs opgetree, maar later is mnr. A. Mahasoa aangestel as likwidateur, wat na bewering briewe aan beleggers gestuur het om betalings van hulle te eis. 'n Keerdatum van Oktober 2003 is genoem.

Van die redes wat beleggers aanvoer waarom hulle belê het by Coetzee, is dat die ekonomie gedruk het en hulle pensioen se rente nie voldoende was vir hulle lewensbehoeftes nie. Verder was dit gerusstellend vir hulle om te weet dat die belegging aanbeveel is deur gerespekteerde mense in die dorp wat ook alreeds daar belê. Ander sê dat die beleggings aanbeveel is en gereël is deur sommige versekeringsmakelaars in die dorp.

In die insolvensie-ondersoeke is bevind dat die grootste gedeelte van die beleggings gebruik is om rente maandeliks aan ander beleggers uit te betaal. Daar kon van meer as 'n miljoen rand nie rekenskap gegee word nie, en is vermoedelik deur Coetzee self gebruik.

Coetzee is intussen van haar man geskei en het die dorp verlaat

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines