

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 July 2009
Daar is sekerlik nie ‘n groter nagmerrie ondervinding nie as om in die oggend op te staan en te besef jou huis is deur die nag deur booswigte gestroop … terwyl jy en jou familie rustig gelê en slaap het.
Hiervan kan mnr. Koos Engelbrecht van Uitbreiding 9 op Louis Trichardt eerstehands getuig. Inbrekers het verlede Donderdagoggend (2de) by sy huis ingebreek en skootrekenaars, video- en digitale kameras en selfone ter waarde van digby die R100 000 gesteel. Engelbrecht is ‘n bekende foto- en videograaf van die omgewing. Een van die skootrekenaars wat gesteel is, het hy skaars drie weke vantevore teen hoë koste aangekoop. Die versekering sal ook nie tot sy redding kom nie, want hy het nie versekering gehad nie. Mens kan hom ook nie sommer hiervoor blameer nie, as mens in ag neem watter astronomiese versekeringspremies op hierdie tipe toerusting gehef word.
“Wys jou net hoe arrogant hulle is. Hulle is nie meer bang vir jou nie,” het Engelbrecht gesê.
Engelbrecht was saam met sy vrou en dogter in die huis toe die strooptog plaasgevind het. Die hele affêre het hom erg ontstel met die besef dat misdadigers in sy woning was, terwyl hulle geslaap het. Alhoewel hulle nie beseer is nie, kon dinge baie erger uitgedraai het. Die diewe het selfs sy vrou se pakkie sigarette langs haar kop op haar bedkassie gesteel.
“Dinge is besig om handuit te ruk,” het Engelbrecht gesê. Hy meen die misdadigers skuil bedags in die veld om die dorp.
“Hulle kom net in die nag uit en kom haal wat hulle wil hê,” sê hy.
Die voorval het hom laat besin oor hom en sy familie se veiligheid. Ná die tyd het sy bure hom meegedeel dat hulle gehoor het die honde blaf verskriklik. Hulle kom hom egter nie bel nie, want nie hulle of hy het mekaar se telefoonnommers nie.
“Ek het besluit om moeite te doen om met my bure kennis te maak en telefoonnommers uit te ruil,” sê Engelbrecht. Hy meen ook dat inwoners weer betrokke moet raak by die aktiwiteite van die Soutpansberg Dorpswag. Al hoe minder lede ry nog gereeld patrollie en die negatiewe nadraai hiervan is duidelik sigbaar.
Alhoewel die polisie nie by magte is om misdaadstatistiek bekend te maak nie, het plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike wel gesê dat hulle gedurende Mei ‘n geweldige probleem met huisbrake ondervind het. Dié negatiewe tendens het voortgeduur tot in die tweede week van Junie, maar het daarna afgeplat ná die polisie hul optrede ten opsigte van patrollies en sigbaarheid opgeskerp het. Tans, sê hy, is die situasie ten opsigte van huisbrake onder beheer, maar dat inwoners nie te gemaklik moet raak nie.
Sadike skryf die voorkoms van huisbraak ook gedeeltelik toe aan blote nalatigheid aan inwoners se kant. Deure wat oopgelos word, venters wat nie toegemaak word nie en oop hekke by wonings is van die probleme wat bydra tot die voorkoms van diefstalle en inbrake. Alhoewel inbrake nie beperk is tot spesifieke dele van die dorp nie, sê Sadike dat die sentrale sakegebied en die industriële area probleemgebiede is. Sadike het ook ‘n beroep gedoen op die Soutpansberg Dorpswag om nie slap te lê nie en steeds hulle behulpsaam te wees in die stryd teen misdaad.
Mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, het by navraag gesê dat hy nie die situasie ten opsigte van huisbraak onder beheer sou bestempel nie, alhoewel daar wel ‘n afname in voorvalle was. Wat die betrokkenheid van dorpswaglede betref, het hy gesê dat Alfa-sektor (oos van die N1/Nuwe Uitbreiding) goed funksioneer, maar dat Bravo- (wes van die N1 en noord van Rissikstraat) en Charlie-sektors (suid van Rissikstraat) tans ‘n probleem is met lede wat nie gereeld genoeg patrollies ry nie.
“Daar is lede wat slaplê en ek wil vra dat hierdie mense weer betrokke raak, anders sit ons binnekort weer waar ons drie jaar gelede was waar mense te bang was om te gaan slaap. Jy ry vir jou en jou familie se veiligheid. Môre wil julle ook rustig slaap met die wete dat iemand anders ook julle gaan beskerm,” het Meissenheimer gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
