

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 July 2009
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk (SANPAB) skenk dringende aandag aan die misbruik van die N1-padreserwe deur taxi’s op Louis Trichardt.
Inwoners van die dorp het hul misnoeë oor die gevaarlike wanordelikheid van taxi’s wat skielik stop en afswenk van die pad en ander wat van nêrens skielik inswaai voor aankomende verkeer, in verskeie oproepe na die koerant te kenne gegee.
Die toenemende probleem van taxi’s wat nou oënskynlik ‘n permanente staanplek inneem in die padreserwe en eenvoudig langs die N1 passasiers op- en aflaai, is vandeesweek onder die aandag gebring van die streeksbestuurder van SANPAB, mnr. Ismael Essa.
Hy het bevestig dat die voertuie wat tussen die Toerisme Inligtingsentrum en die noordelike verkeersirkel in die padreserwe langs die N1 parkeer, die wet oortree. Daar is oral langs dié gedeelte van die N1 stilhouverbodtekens. Die willekeurige op- en afry vanaf die N1 skep ernstige gevaar vir plaaslike en deurverkeer op die nasionale tolpad. Doeltreffende wetstoepassing is noodsaaklik om die situasie te beveilig.
‘n Woordvoerder van die Makhado munisipale verkeersafdeling het egter by navraag gesê wetstoepassing langs die N1 val buite hul jurisdiksie. Pogings om die provinsiale verkeersowerhede in Polokwane se kommentaar oor die aangeleentheid te verkry, het ongeag herhaalde boodskappe by telefone wat nie beantwoord word nie, misluk.
Mnr. Essa sê SANPAB beskik nie oor ‘n wetstoepassingskapasiteit nie. Hy sal ‘n beroep op die provinsiale verkeerspolisie doen om die nodige wetstoepassing te doen. As dit nie slaag nie, sal SANPAB die moontlikheid ondersoek om een of ander versperring langs die N1 aan te bring, om die gevaarlike, onwettige praktyk te beëindig.
Paalversperrings het soortgelyke probleme by die Baobab Tolplaza en by die suidelike ingang van Musina doeltreffend hokgeslaan.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
