ADVERTISEMENT:

 

Onderweg na Zimbabwe is die uitreikspan van die Zimbabwe Pensioners Supporters Fund op Louis Trichardt deur vriende ingewag en gegroet. In die foto is van links Dr. Piet Kruger, veteraan sendeling van die Gereformeerde Kerk, wat hom onvermoeid beywer vir die welsyn van hawelose Zimbabwiërs op Louis Trichardt, ZPSF-spanlid Marx Gertenbach van Bloemfontein, Bob Daniels, ZPSF se pakhuis koördineerder van Malelane, past. Attie Botha van ZPSF en Frans Prinsloo van die Afrikaanse Baptiste Kerk op Louis Trichardt.

Bejaardes in Zimbabwe in desperate situasie

 

News  Date: 10 July 2009

 

Eensaamheid, geld- en kosskaarste en ‘n gebrek aan doeltreffende mediese sorg is deel van die desperate situasie van bejaardes in Zimbabwe, wat aangespreek word deur die gereelde noodritte van die Zimbabwe Pensioners Support Fund (ZPSF).

Woordvoerder past. Attie Botha van ZPSF en sy span het verlede week op Louis Trichardt aangedoen, met nog ‘n vrag spesiale voorraad wat landwyd ingesamel is vir Zimbabwe se bejaardes. Op die huidige uitreikaksie sal die span 2 167km binne Zimbabwe aflê en sowat 735 liter brandstof verbruik.

Met ‘n spesiaal-toegeruste swaar vragmotor en sleepwa sal ‘n hele paar ton spesiaal verpakte kartonne basiese kruideniersware aan die bejaardes afgelewer word. Die kartonne word vooraf verpak in ‘n pakhuis in Malelane, waarheen skenkings gebring word. Dié ritte na Zimbabwe word elke ses weke onderneem.

“Dit is telkens weer ‘n aangrypende belewenis,” sê Attie. Die aflewerings is telkens ‘n emosionele ontmoeting met mense wat “niks en niemand” meer oor het nie.

Met hul Mei-maand besoek is Attie se span vanaf Masvingo vergesel deur Hannes Snyman se Clinics for Jesus-span wat met deernisvolle bemoediging kennis geneem het van en aandag gegee het aan die bejaardes se mediese behoeftes.

Attie het groot waardering vir skenkers landwyd wat die voortgesette hulpaksie moontlik maak.

“Ons sê dankie aan al die ruimhartige donateurs, gebedsgenote, lede van die publiek en vriende vir alles wat u doen om hierdie taak moontlik te maak. Ons is afhanklik van u voortgesette lojale steun in elke afdeling.

“Die rampspoedige lotgevalle van die Zim-dollar het die bejaardes van hul enigste inkomste en spandeervermoë ontneem. Vir hulle versleg die situasie by die dag en daagliks word nog meer mense toegevoeg tot die hopelose toestand. Vir sommige van hulle is dit bloot die genade van Bo wat maak dat hulle nog in hul tuistes en versorgingsoorde kan aanbly,” sê past. Attie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines