

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 July 2009
Inwoners van Louis Trichardt en omstreke het die afgelope week verneem van die skielike afsterwe van die welbekende mnr. Gert Oosthuizen. Hy is Woensdag, 8 Julie, in die ouderdom van 76 jaar in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede na ‘n kort siekbed.
Mnr. Oosthuizen, ‘n boorling van die Soutpansberg, is op 17 Maart 1933 op Louis Trichardt gebore, maar het in die destydse Pietersburg sy skoolloopbaan voltooi.
Ná matriek het hy na Pretoria verhuis en daar gewerk. Hier het hy ook sy vrou, Ria, ontmoet. Die egpaar is op 28 Maart 1959 in die eg verbind.
Die Oosthuizen-gesin besluit in 1976 om terug te keer na die Soutpansberg en vestig hulle permanent op Louis Trichardt. Deur die jare was mnr. Oosthuizen betrokke by verskeie sakeondernemings en politieke organisasies. Hy was ook die hoof uitvoerende beampte van die destydse Venda Ontwikkelingskorporasie.
Ria en die kinders het verlede week gesê hulle sal altyd Gert onthou as ‘n man wat gestaan het vir dit waarin hy glo.
“Hy het gestaan by dit wat hy glo en hy het ook daarby geval.”
Gert se begrafnis is Woensdag gehou vanuit die Hervormde Kerk Soutpansberg-gemeente. Hy laat vir Ria, met wie hy 50 jaar getroud was, asook twee kinders, Gerhard en Tersia, en twee kleinkinders, Emile en Bianka, agter.
Die familie het hul dankbaarheid teenoor die gemeenskap uitgespreek vir al die SMSe, telefoonoproepe, blomme, kos en gebede. Hulle het ook ‘n spesiale woord van dank gehad vir dr. Casper Venter, die span by die Zoutpansberg Privaathospitaal en ds. Piet van der Merwe wat Gert bygestaan het nadat hy siek geword het.

ADVERTISEMENT:
