

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 July 2009
‘n Inwoner van Kortsraat in Louis Trichardt het hom onlangs uit radeloosheid met die Makhado Munisipaliteit na die Soutpansberg Belastingbetalersverening (SBBV) gewend om ‘n redelik stink probleem op te los.
In September 2007 het mnr. Mike Galvin opgemerk hoe rou riool uit die vleiland agter sy huis by sy erf begin opstoot. Hy het dadelik die munisipaliteit daarvan in kennis gestel en, wonder bo wonder, is ‘n tegnikus vinnig uitgestuur om die probleem te herstel. Volgens die tegnikus was daar ‘n blokkasie en het hulle dit sommer vinnig herstel.
Mike se geluk was egter van korte duur. In November was die blokkasie met mening terug en dit was die begin van ‘n amper twee-jaar-lange stryd met die munisipaliteit om die probleem op te los.
In November 2007 het hy weer die munisipaliteit geskakel en die keer homself vasgeloop in leë beloftes. Moedeloos het hy na ‘n heen-en-weer gebellery by ‘n beampte van die munisipaliteit uitgekom wat persoonlik na sy eiendom gery het om inspeksie te doen. Beloftes dat daar aan die probleem aandag geskenk sou word, het ook niks tot gevolg gehad nie.
In Desember verlede jaar het die probleem so erg geraak, dat die riool uit die toilet binne Mike se huis begin opstoot het. Steeds is daar niks aan sy probleem gedoen nie, met verskonings van te min werkers en te veel werk.
Meimaand vanjaar het die situasie so ondraaglik geraak dat Mike by die SBBV gaan aanklop het om hulp.
Me. Colleen Smit, ‘n woordvoerder van die SBBV, vertel dat sy verskeie kere telefonies met die betrokke beampte geskakel het en aan hom verduidelik dat dit onaanvaarbaar is dat die Galvins só lank moet sukkel met hul rioolstelsel. Beloftes is weer gemaak, maar steeds het niks gebeur nie.
Sowat drie weke gelede het werkers wel uitgekom, maar al wat hulle gedoen het was om die rioolpype oop te grawe en dit net so te los – sonder om die blokka-sie reg te maak.
Ná amper twee maande wat die SBBV ook net leë beloftes vanaf die munisipaliteit ontvang het, het hulle besluit om daaroor te laat skryf in die Zoutpansberger.
Mnr. Louis Bobodi, munisipale woordvoerder, het by navraag bevestig dat die “relevante departement aandag aan die probleem sal gee en die saak as ‘uiters dringend’ beskou.” Op ‘n vraag hoekom die Galvins se probleem nie vroeër aangespreek is nie, het hy gevra dat die publiek “nie die munisipaliteit moet blameer nie” en dat hierdie nie in ‘n “vingerwys geleentheid” moet ontaard nie.” Hy sê dat die blokkasie veroorsaak word deur die huidige pype wat te klein is om die hoë volumes riool te hanteer en dat die munisipaliteit in die proses is om die hele rioolstelsel in die Kortstraat-area op te gradeer. Bobodi het gesê dat opgraderingswerk so vroeg as Vrydag hierdie week kan begin.

ADVERTISEMENT:
