

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 July 2009
Wat nou gemaak as iemand jou byna bokveld toe ry en daar is nie ‘n verkeersbeampte of polisieman om die padvark vas te trek nie?
Lana Hoffman van Levubu het juis so ‘n nare ondervinding beleef op 10 Junie vanjaar. Sy was besig om die besige Songozwi/Kroghstraat-kruising op Louis Trichardt oor te steek, toe ‘n minibus-taxi ‘n rooi verkeerslig verontagsaam het en reguit op haar afgestuur het.
“Was dit nie vir Tobie Lochner wat my uit die pad gestamp het nie, het die taxi definitief oor my gery. Terwyl ek daar in die pad gelê het, het die taxi net verder gery,” vertel Lana. Sy is innig dankbaar teenoor Tobie, wat in haar oë heel moontlik haar lewe ge-red het.
Intussen het nog ‘n inwoner, Maryke Kruger, gesien wat gebeur en die taxi agternagesit om die registrasienommer te kry. Sy het kort daarna spesiaal teruggekom na Lana toe om die registrasienommer van die voertuig (BKC 818 L) vir haar te gee.
Lana het dadelik die besonderhede van die voorval en die registrasienommer van die taxi aan ‘n verkeersbeampte gegee wat ‘n ent vanaf die kruising geparkeer gestaan het. Sy het die voorval op 22 Junie met die munisipale verkeersafdeling opgevolg, maar niemand kon vir haar sê of daar al iets rondom die voorval gedoen is en of dit ooit ondersoek word nie. Sy wil ook weet of iemand anders al probleme met die betrokke taxi ondervind het.
Wat nou gemaak?
Dit wil lyk asof daar wel ‘n manier is vir slagoffers van voorvalle soos hierdie om oortreders tot verantwoording te bring, alhoewel dit ‘n moeilike proses kan wees.
Eerstens kan slagoffers ‘n klag by die polisiestasie gaan lê en vra dat daar ‘n ondersoekdossier oopgemaak moet word. Die persoon moet ‘n volledige verklaring aflê van wat gebeur het. ‘n Registrasienommer van die voertuig of uitstaande kenmerke van die voertuig (wat sal kan help om die voertuig later te identifiseer) sal die klaer se saak baie help. Daarna sal die klaer bereid moet wees om in die hof te gaan staan en te getuig.
Dit klink heel eenvoudig, maar uit gesprekke met verskeie regskenners en wetstoepassers het dit geblyk dit is alles behalwe so maklik. Die grootste struikelblok blyk te wees om die polisie in die eerste plek te probeer oortuig om die klagte te aanvaar. Die rede hiervoor is dat elke dossier wat geopen word, uiteindelik ondersoek word. Dit, meen baie mense, is waarom die polisie eerder net ‘n ongeluksverslag sal open om ‘n saaknommer te kry vir byvoorbeeld versekeringsdoeleindes. Deesdae is verkeersongelukke aan die orde van die dag en is dit ook te verstane dat die polisie nie die tyd of mannekrag het om elke klein ongelukkie te ondersoek nie. Dit moet egter genoem word dat dit nie die geval is in ernstige ongelukke of voorvalle waar growwe roekeloosheid of nalatigheid betrokke is nie.
So, beteken dit nou dat dit beter is om die hele affêre te los? Nee, soos een wetstoepasser opgemerk het, dit is moontlik maar moeilik en die klaer sal behoorlik hare op sy/haar tande moet hê. Op die einde sal dit sekerlik vir die klaer gaan oor die beginsel van reg en verkeerd.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag beaam dat inwoners die reg het om in gevalle soos wat met Lana gebeur het, ‘n klagte te kom indien. Hy het verder genoem dat dit ‘n oortreding is om nie te stop by ‘n toneel waar ‘n persoon se aksies skade of fisiese beserings aan ‘n ander persoon tot gevolg gehad het nie. Sadike het egter gevra dat mense nie hierdie prosedure moet misbruik vir elke klein voorvalletjie waar ‘n persoon byvoorbeeld nie by ‘n stopteken stop nie, juis omdat dit baie van die polisie se tyd en mannekrag in beslag neem.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
