ADVERTISEMENT:

 

Oom Hansie se groot "liefde" op veiling

 

News  Date: 12 December 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Unieke en uiters waardevolle werkende stoommodelle in die plaaslike versameling van mnr. Hansie Uys, gaan verkoop word. Die versameling, wat nou per veiling aangebied gaan word, bestaan uit meer as 50 stukke.

Van die groter modelle, wat op 'n skaal van nagenoeg 1:10 gebou is, is reeds op 'n aandveiling, met internasionale deelname, deur een van Suid-Afrika se grootste veilingsorganisasies in Pretoria verkoop.

Mnr. Uys se indrukwekkende versameling van nagenoeg 2 000 model treine is ook reeds van die hand gesit. Altesaam 500 van die modeltreine is vroeër deur wyle dr. Smalle gekoop, terwyl 1 500 met behulp van veilings of uit die hand verkoop is.

"Diefstal het rugby as Suid-Afrika se nasionale sport vervang en versekering het ook te duur geword. Dit word 'n al hoe groter probleem om so 'n versameling te beskerm," het mnr. Uys vandeesweek in 'n onderhoud gesê.

Hy sê, liewers as om sy versameling in kratte en houers op 'n "veilige plek" te bêre, is dit 'n oorweging om die versameling aan ander beskikbaar te stel deur middel van onder meer veilings.

Mnr. Uys se liefde vir stoommodelle strek oor etlike dekades en sy versameling sluit stukke in wat in die jare twintig vervaardig is. Hy self het deur die jare talle werkende stoommodelle gebou.

"Dit sluit enigiets in wat met stoom werk – skepe, treine, trekkers, motors, speelgoed en 'n verskeidenheid masjinerie."

Die jongste model wat hy self gebou het - die keer selfs sonder 'n beskikbare plan – is 'n meganiese hyskraan wat indertyd gebruik is by die herwinning van stoomlokomotiewe en treine wat ontspoor het. Hy moes self die verskillende ratverhoudings in die ingewikkelde meganisme uitwerk en heelwat van die onderdele self maak. Die eindproduk lyk nie net soos die ware Jakob nie, maar werk ook seepglad – met stoom of met 'n draaislinger.

"Naas wind was stoom een van die eerste aandrywingsmiddels wat die mens uit die natuur geneem het om die lewe vir homself makliker te maak. Vroeër jare wou byna elke klein seuntjie 'n treindrywer word. Vandaar ook my belangstelling in stoomaangedrewe modelle, hoewel ek ook, soos talle ander jong bewonderaars, toe ook nooit 'n treindrywer geword het nie," skerts hy oor sy stokperdjie.

Mnr. Uys sê stoom as aandrywingsmiddel het nou reeds bykans heeltemal van die toneel verdwyn, weens die hoë instandhoudingskoste.

"Dit neem net enkele minute om 'n fout in 'n stoomenjin op te spoor, maar dit kan dae neem om te herstel. 'n Fout wat dalk etlike ure neem om op te spoor in 'n diesel of elektriese eenheid, kan gewoonlik binne net 'n paar uur herstel word."

"Die genot van stoommodelle bou as stokperdjie, is dat jy altyd die vrug van jou arbeid kan waarneem as so 'n model kan werk soos sy groter boetie. Alle onderdele word self vervaardig. Soms is dit makliker om kleiner ratjies vir 'n ratkassie by 'n skrootwerf te gaan kry – hoofsaaklik uit ou rekenaardrukkers."

Mnr. Uys sê die waarde van die modelle is gekoppel aan die toestand, ouderdom, die vermoë om soos die ware Jakob te funksioneer en of die gekoopte model nog in sy oorspronklike verpakkingshouer is.

Hy beskik oor 'n paar modelle wat gelykstaande is aan modelle wat onlangs in Londen op 'n veiling verkoop is vir tussen R35 000 en R45 000 stuk.

Veral die Duitse handelsmerk Marklin se ou modelle en speelgoed is baie gesog. Hy het onlangs skriftelike bevestiging vanaf 'n fabriek in Duitsland ontvang dat 'n ongebruikte Marklin modelboustel (soortgelyk aan die Britse Meccano stelle) in sy besit, tesame met sy oorspronklike handleiding, in 1928 vervaardig is. Die handleidings is in Duits en Hollands gedruk. Die betrokke items is uiters skaars en bykans onbekombaar.

"In al my omswerwinge om items te versamel is die stelle in my besit die enigste wat ek ooit gesien het."

Een van die besonder waardevolle items in sy besit is 'n model wat in Maart 1936 'n eersteprys op 'n skou in Australië ontvang het. Hy het ook nog 'n eksemplaar van die tydskrif waarin die pryse destyds aangekondig is.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines