

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 July 2009
Die omstrede betoging deur stakende werkers voor Ons Tuiste Outehuis op Louis Trichardt is vandeesweek beëindig, nadat die Makhado Munisipaliteit sy toestemming vir die betoging teruggetrek het.
Die Nasionale Organisasie vir Werkgewers Suid-Afrika (NOESA) het terselfdertyd namens die bestuur van die ouetehuis ‘n uitsluitingsbevel teen die stakende werknemers aangekondig. Dit verbied die stakers om die perseel te betree of om op enige wyse in te meng met nie-stakende werknemers en plaasvervangende werkers. Hulle het dit ook duidelik gestel dat die beginsel van geen-werk-geen-betaling van toepassing sal wees vir die volle duur van die staking.
Die munisipaliteit se ingryping volg op ‘n professionele beswaar teen die luidrugtige betoging reg voor die ouetehuis, waar onder meer verswakte bejaardes versorg word. Die beswaar dui daarop dat die bejaarde inwoners se basiese menseregte deur die luidrugtige betoging aangetas word.
Die skriftelike beswaar deur ‘n mediese praktisyn lui dat die betogers se optrede siek bejaardes in die siekeboeg ernstig sielkundig traumatiseer. Dit kan lewensbedreigend wees, omdat dit tot asma en hartaanvalle aanleiding kan gee.
Die verslag lui ook dat daar pasiënte is wat ná plaasaanvalle behandel word vir posttroumatiese stres. Die verslag sê dat dié massa-rumoer kan veroorsaak dat die pasiënte weer die trauma van die aanval kan herleef. Die verslag word afgesluit met die versoek: “Die betrokke owerhede word derhalwe versoek om hierdie lawaai te beëindig, aangesien dit tot die verlies van menselewens kan aanleiding gee.”
Betogers het die dans en sing wat in die oorspronklike munisipale goedkeuring pertinent toegelaat is, geesdriftig aangevul met skril fluitjie- en vuvuzela-blasery, reg voor die ouetehuis en etlike meters vanaf die sonstoep waar bejaardes, sommige met rolstoele, die buitelug opsoek.
Die betogers het hulle ook nie gesteur aan die oorspronklike verbod teen inmenging met en versperring van die padverkeer nie. Hulle het in die middel van die straat, reg voor die ingang van die ouetehuis, gedans, gesing, fluite geblaas en plakkate geswaai.
Lede van die publiek op Louis Trichardt en veral gesinslede van die bejaarde inwoners, het vandeesweek die munisipaliteit se ingryping verwelkom. Terselfdertyd het hulle hul verontwaardiging uitgespreek oor die “kortsigtige en onbedagsame oorywer” waarmee die owerhede aanvanklik op die vakbond se versoek om goedkeuring gereageer het.
“Die aantasting van die verswakte bejaarde inwoners se basiese menseregte kon voorkom gewees het, as die owerhede die voor-die-hand-liggende omstandighede by ‘n ouetehuis in aanmerking geneem het, voordat hulle hul voorwaardes opgestel het,” is die oorweldigende reaksie.
Die omstrede betoging is gereël ter ondersteuning van ‘n staking weens ‘n ewe omstrede loongeskil. Die geskil is in omstredenheid gehul, aangesien die vakbond na bewering voortydig ‘n dooiepunt verklaar het, ‘n staking uitgeroep het en ‘n betoging gereël het, terwyl die werkgewer sy bereidwilligheid tot verdere samesprekings duidelik aangedui het.
Die vakbond het aanvanklik in Januarie vanjaar ‘n verhoging van R350 per maand vir al sy lede geëis.
Die werkgewer het gereageer met ‘n aanbod van ‘n 7,5%. Die vakbond het daarop ‘n eise-tabel met individuele maandelikse verhogings voorgelê wat wissel van 2% tot meer as 43%.
Die beheerraad van die ouetehuis het inmiddels ‘n verhoging van 7,5% vanaf 1 Junie vanjaar vir sy personeel in werking gestel.
‘n Woordvoerder van die beheerraad, mnr. Johan Lordan, het waardering uitgespreek vir die wyse waarop die publiek gereageer het op die ouetehuis se versoek om bystand deur vrywilligers met verpleegkundigheid.
“In alle afdelings van die versorging van die bejaarde inwoners het ons oorweldigende ondersteuning ontvang en alles verloop baie goed. Die oumense word deurlopend deeglik en goed versorg.”
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
