ADVERTISEMENT:

 

Onvervangbare geskiedkundige rekords van die Buys-gemeenskap het in vlamme opgegaan, nadat ‘n brand in die vroeë oggendure op Dinsdag, 21 Julie, gestig is in die kantoor langs die President Kruger Gemeenskapsaal op Mara.

Buys-geskiedenis gaan in vlamme op

 

News  Date: 24 July 2009

 

“Ons vra dat die gemeenskap die brandstigter aan die kaak stel,” is die pleidooi van die mnr. Simeon Buys, voorsitter van die bestuurskomitee van die Buys-gemeenskap.

Onvervangbare geskiedkundige rekords het in vlamme opgegaan, nadat ‘n brand gestig is in die kantoor langs die President Kruger Gemeenskapsaal op Mara naby Vivo. Mara, Buysdorp, Buysplaas en Buyshoek is die vier plase wat in 1888 deur President Paul Kruger geskenk is aan die Buys-gemeenskap, nasate van pionier Coenraad de Buys.

“Die geskiedenis het uitgebrand, die argiewe van ons voorouers se rekords, wat seker terugdateer tot 1932. Die rekords bevat alles omtrent die Buyse, hulle familieregisters, statistieke, briewe, resolusies, notules, kwitansieboeke en state. Dit het aangedui hoe die mense dinge destyds gedoen het en hoe dit ontwikkel het totdat ons met ‘n rekenaar begin werk het,” het mnr. Alexander Smail, lid van die bestuurskomitee, by die toneel van die brandskade gesê.

Die rekords van die argiewe is net die vorige dag na die betrokke kantoor oorgeplaas, aangesien opknappingswerk aan die saal en aangrensende vertrekke aan die gang is.

Van die splinternuwe rekenaar wat twee weke gelede aangekoop is, het net ‘n onherkenbare smeulende hopie oorgebly. Die vorige rekenaar is ook opsetlik beskadig.

Die jongste brand is Dinsdagoggend, 21 Julie, omstreeks 07:00 ontdek en dit skyn of die brandstigting in die loop van die nag of vroeë oggendure plaasgevind het. Net meer as twee maande gelede, op 14 Mei, het daar ook ‘n brandstigting by die kantoor plaasgevind. In daardie brand is die vorige rekenaar beskadig, maar die stapels historiese rekords was nie in die vertrek nie.

By die eerste brand is daar by ‘n buitedeur ingekom. Hierdie keer is ‘n venster oopgebreek, waarna die brand van buite gestig is, sonder dat toegang tot die kantoor verkry is. Die stapels rekords wat in die gedeelte naby die venster oorgeplaas is, het vlam gevat. Binne in die kantoor is ‘n gedeelte wat toegesper is met ysterdiefwering. Die brand het daarheen versprei. ‘n Paar geskroeide lêers is uit die puinhoop na buite gedra, voordat die brandweer sou begin om alles nat te spuit.

Die brand is die oggend ontdek deur mnr. Vincent Johan da Gama van Da Vinci Konstruksies wat met opknappingswerk aan die saal besig is. Die kantoor is aangrensend tot die saal. Die polisie is ontbied en ‘n saak van brandstigting is geopen.

“Ek voel baie verbitterd,” het mnr. Buys gesê. Hoekom die bestuurskomitee se kantoor teiken vir brandstigting? Daar is ‘n motief, maar wat is die motief? Dit wat hier plaasvind, is nie opbouend nie, dis afbrekend.” Hy het die skade rofweg op R30 000 geskat, insluitende die nuwe rekenaar van R8 000. Daar kan egter nie ‘n geldwaarde gekoppel word aan die verlies van die historiese rekords nie.

Die Buys-gemeenskap se beherende liggame bestaan uit die bestuurskomitee, die algemene vergadering en die hoërhuis. Mnr. Lasarus Weston, voorsitter van die algemene vergadering, sê dat die komitee goeie werk vir die Buys-gemeenskap doen en verskeie verbeterings aangebring het.

“Die balansstaat is nou baie gesond. Ons is besig om die skouer van die pad oop te kap, ons het ‘n groot donasie vir die kerk hier gegee en ons doen opknappingswerk by die saal, waarna ons die begraafplaas wil opknap,” het mnr. Weston gesê.

Dit was nie duidelik wat die motief vir die brandstigting was nie. Sommige lede van die gemeenskap is van mening dit is om die komitee se werk te bemoeilik.

“Daar is ‘n soort haat tussen ons,” het een opgemerk. “Dit moet iemand van binne Buysdorp wees,” was ‘n ander se mening.

“Dis onnodig om goed te beskadig. Bid asseblief vir ons mense sodat hulle ons komitee sal uitlos om hulle werk te doen,” het me. Carolina Diederiks gesê.

 

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines