ADVERTISEMENT:

 

Kommissie begin met soektog na Nel se oorskot

 

News  Date: 24 July 2009

 

‘n Kommissie van ondersoek het hierdie week begin met hul ondersoek na die omstandighede wat daartoe bygedra het dat die Staat daarin kon slaag om die oorskot van die 36-jarige Johan Nel van Louis Trichardt te verloor.

Johan is op 8 September verlede jaar op slag dood, nadat sy bakkie en ‘n vragmotor naby Brits in Noordwes Provinsie gebots het. Beide voertuie het uitgebrand, met Johan wat in sy bakkie verkool het. Tot vandag toe nog wag sy ouers, Frik en Sougnet, steeds om hul seun ‘n ordentlike begrafnis te gee, nadat die Staat sy oorskot verloor het.

Die kommissie van ondersoek is deur die premier van Noordwes aangestel. Die kommissie is getaak om eerstens uit te vind hoe Johan se oorskot verlore kon geraak het, maar ook om te kyk na ander probleme rakende die Noordwes Provinsie se staatslykshuise. Die ondersoek word hanteer deur twee mediese dokters, ‘n patoloog, ‘n advokaat en mev. Wilna Liebenberg, wat vanaf Januarie vanjaar al die Nel-egpaar behulpsaam is in hul soektog na hul seun se oorskot.

Die kommissie het Sondagoggend begin met hul ondersoek. Maandag het hulle besoek afgelê by die Departement van Gesondheid op Lichtenburg. Dieselfde dag het die kommissie ook met Frik en Sougnet vergader, waarna hulle die Departement van Gesondheid se staatslykshuis op Brits, asook die SAPD daar, besoek het. Dinsdag is die Departement van Gesondheid op Klerksdorp besoek.

Die Nel-egpaar was teen druktyd steeds in Noordwes. Volgens Frik sou daar Donderdag weer van hom en Sougnet bloed getrek word vir verdere DNS-toetse. Die toetse word hierdie keer gehanteer deur die forensiese tak in Pretoria en ‘n onafhanklike patoloog.

“Ons lei maar af dat die ondersoek sover redelik suksesvol is, maar of hulle al vir Johan gevind het, is steeds onduidelik,” het Frik Woensdagmiddag gesê.

 

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines