

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 July 2009
Die polisie op Louis Trichardt het sedert die begin van die maand ‘n bedrywige tyd op die misdaadfront beleef.
Oor die naweek van 11 Julie is verskeie verdagtes aangekeer. Onder hulle was ‘n 55-jarige verdagte wat in die omgewing van Vorsterstraat aangekeer is. Die verdagte word daarvan verdink dat hy oor ‘n tydperk van ‘n paar maande ongeveer R10 000 van sy werkgewer gesteel het. Hy was werksaam by ‘n telefoonkiosk en het klaarblyklik van die kliënte se geld in sy eie sak gesteek.
Nog twee verdagtes is in dieselfde tydperk gearresteer naby ‘n konstruksieterrein in die omgewing van Bergvlei (naby die skouterrein). Dié twee, tussen die ouderdomme van 28 en 37, is gevang nadat hulle by die konstruksieterrein ingebreek het en 100 plastiek emmers, met ‘n geskatte waarde van ongeveer R2 000, gesteel het.
Op Woensdag, 15 Julie is nog twee verdagtes aangekeer tussen die ouderdomme van 21 en 34, nadat hulle ook boumateriaal ter waarde van sowat R5 300 by ‘n ander konstruksieterrein buitgemaak het. Die polisie ondersoek ook ‘n ander klag teen die 21-jarige verdagte. Daar word vermoed dat hy vroeër die maand ook by ‘n huis in die Maila-woongebied ingebreek het en ‘n voertuigklankstelsel gesteel het.
Die afgelope naweek is ‘n verdere drie verdagtes gearresteer.
Twee verdagtes tussen die ouderdomme van 42 en 49 is gearresteer vir die steel van skrootmetaal. Die twee verdagtes is aangekeer naby die plaas Schoemansdal, nadat die polisie ‘n wenk van die publiek ontvang het. Dié verdagtes, Kenneth en Herbert Neube vanaf Zimbabwe, het Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn. Hulle is albei gevonnis tot ‘n boete van R800 of een maand gevangenisstraf.
Dieselfde dag het ‘n 55-jarige vrou ook in die hof verskyn op klagte van winkeldiefstal. Die vrou is verlede Vrydag in hegtenis geneem, nadat sy kruideniersware ter waarde van R560 by Pick ‘n Pay gevat het sonder om daarvoor te betaal. Die saak teen haar is egter teruggetrek, aangesien sy onbevoeg verklaar is vir verhoor.
Maandagaand is daar ook twee mans tussen die ouderdomme van 20 en 26 gearresteer, nadat hulle by ‘n voertuig ingebreek het wat naby Isofo geparkeer was. Die polisie het die twee aangekeer tydens ‘n roetine patrollie in die dorp se industriële gebied. Die mans, beide vanaf Johannesburg, het probeer wegkom met kontant en ‘n CD-speler wat hulle uit die voertuig buitgemaak het.
Ook op Maandag het die 30-jarige Stanley Mashudu Mudau in die plaaslike landdroshof verskyn op ‘n klagte van diefstal. Die klag teen hom volg nadat hy Sondag skrootmetaal ter waarde van sowat R300 gesteel het. Hy is gevonnis tot ‘n boete van R800 of een maand gevangenisstraf.
Die polisie het weer hul kommer uitgespreek oor die toename in inbrake, veral gedurende die skoolvakansie. Polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het ‘n beroep gedoen op die publiek om kennis te maak met hul bure.
“Kyk na mekaar en vra jou buurman om ‘n ogie oor jou huis te hou as jy weggaan,” het hy gevra.

ADVERTISEMENT:
