ADVERTISEMENT:

 

Suider-Afrikaanse boere byeen oor toekoms van landbou

 

News  Date: 24 July 2009

 

Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het gesê dat georganiseerde landbou daarna uitsien om met verteenwoordigers van die Southern African Commercial Farmers Alliance te vergader.

Viljoen het gesê dat dit noodsaaklik is dat boere in die Suider-Afrikaanse gebied bymekaar moet kom om gemeenskaplike probleme te bespreek, maar ook om ‘n strategie vir volhoubare boerdery, voedselsekerheid, en eiendomsreg aan te spreek. Hy het aangedui dat die TLU SA se provinsiale dagbestuur die vergadering met die verteenwoordigers van die SACFA sal bywoon. Die verteenwoordigers van SACFA sal na Suid-Afrika deur Botswana reis en by Groblersbrug deur die Suid-Afrikaanse afvaardiging ontvang word.

Viljoen sê dit word toenemend duidelik dat eiendomsreg (grond, minerale, vuurwapens, eiendom,) die basis vorm van ‘n demokrasie en vryheid, aangesien bates die burgers se laaste beskerming is teen die vergrype van ‘n magshonger en korrupte regerende party wat die regeringsinstansie skaak vir eie belang en selfverryking.

“Dit is duidelik uit die uitgerekte hofsake waarin gewone burgers in Zimbabwe teen die Mugabe regime betrokke is, dat self die geweldenaar en diktator soos Mugabe die waarheid besef het. Daarom moet daar gekyk word na strategieë wat toegepas kan word om eiendomsreg in Suid Afrika, en later in die Suider Afrikaanse lande, te vestig en beskerm,” sê Viljoen.

Viljoen het gesê dat die boere van SACFA baie geleer het uit die vergrype in Zimbabwe.

“Die harde werklikheid van die verval van die staat, wetteloosheid, anargie en vernietiging van die beskawing het nuwe insigte gebring. Die nuwe insig bring voorts nuwe wysheid en nuwe waarhede. Daardie waarhede en wysheid moet nou in planne omskep word wat vryheid vir almal in Suider-Afrika sal waarborg,” sê Viljoen. Hy het gesê dat kommersiële landbou in Suider-Afrika daarna moet kyk om ‘n verteenwoordigende, oorkoepelende organisasie op die been te bring.

 

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines