

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 July 2009
Die nuus van die skielike dood van ‘n bekende polisieman van die Mara-omgewing, insp. Willem Jacobs (39), het as groot skok gekom vir inwoners van die Soutpansberg.
Veral die landbou-gemeenskap in die Mara-omgewing het met skok en hartseer gereageer op die nuus.
Insp. Jacobs, of Jakes soos almal hom geken het, is Dinsdagaand, 21 Julie, dood ná ‘n skiet-voorval by sy woning op Mara. Sy vriendin, die 55-jarige Thea du Toit, is kort ná die voorval gearresteer. Jacobs en Du Toit het ‘n huurhuis gedeel op ‘n plaas tussen Vivo en Alldays.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder supt. Ronel Otto was Jacobs en Du Toit klaarblyklik in ‘n woordewisseling betrokke, waarna Du Toit skynbaar Jacobs se privaat pistool gevat het en blindelings skote op hom afgevuur het binne hul woning. Een van die skote het Jacobs in die bors getref.
‘n Mede-loseerder by die woning het Jacobs te hulp gesnel, nadat Jacobs by die huis uitgevlug het. Hy het gesukkel om asem te haal, waarna die loseerder hom na ‘n dokter op Vivo gejaag het. Jacobs het egter kort na sy aankoms aan die wond beswyk.
As ‘n polisieman het Jacobs die afgelope 20 jaar die gemeenskap gedien en was hy ‘n groot steunpilaar vir veral die boere in die omliggende omgewing. Enige iemand kon hom dag of nag bel.
‘n Lewenslange vriend en kollega, sers. Anton Jongbloed, het vandeesweek vertel dat hy dié betrokke dag nog by Jacobs gaan vleis braai het. Minute nadat hy egter die plaas verlaat het, het hy met skok verneem van die voorval toe mense hom begin bel het.
“Hy was soos ‘n broer vir my gewees. Jakes was ‘n uitstekende polisieman. Sy dood sal ‘n leemte los, nie net in my lewe nie, maar in baie mense se lewens. Jakes het nie normale kantoor ure gewerk nie en mens kon altyd op hom staat maak.” Jongbloed onthou nog hoe Jakes een keer sewe gekaapte vragmotors in een week weer teruggekry het.
Kapt. Pieter Maboyi, statsiebevelvoerder van die SAPD op Mara, het ook gesê dat die hele stasie met groot hartseer verneem het van Jakes se dood.
“Ons neem afskeid nie net van ‘n goeie polisieman en kollega nie, maar ook van ‘n vriend en familielid.”
Jacobs het groot spore getrap in die gemeenskap. Hy is op 7 Februarie 1971 in Pretoria gebore, maar sy familie het kort daarna na Louis Trichardt verhuis, waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi het.
Ná skool het hy eers sy diensplig gedoen, waarna hy by die Suid-Afrikaanse polisie aangesluit het. Hy het in 1989 aangesluit by die polisie op Louis Trichardt.
Sy suster, Sonja Bester, vertel dat hy ook vir ‘n kort rukkie betrokke was by die polisie se veiligheidstak, waarna hy ook betrokke was by die polisie op Waterpoort, voordat hy by Mara gestasioneer is. Hy het kort voor sy dood besluit om by die honde-eenheid in Polokwane aan te sluit.
Jacobs is vanuit die Hervormde Kerk op Louis Trichardt begrawe. Hy word oorleef deur sy suster, swaer Joël en dié se kinders Clarissa en Stefan.
Die gesin het hul dank uitgespreek teenoor al Jacobs se kollegas en vriende wat hul byge-staan het.
Intussen het Du Toit op Donderdag, 23 Julie, in die plaaslike landdroshof verskyn. Haar saak is uitgestel tot Donderdag, 30 Julie, vir verdere ondersoek. Sy sal na verwagting dan ‘n borgaansoek bring.

ADVERTISEMENT:
