ADVERTISEMENT:

 

Mynreus praat oor planne vir Waterpoort

 

News  Date: 31 July 2009

 

Boere van die Waterpoort-omgewing het Saterdag, 25 Julie, meer duidelikheid gekry oor die mynreus Rio Tinto se planne vir dié en ander omliggende gebiede.

Volgens mnr. Rudolph Otto, voorsitter van die Waterpoort Boerevereniging, is daar met die mynmaatskappy in verbinding getree oor die stand van sake, met ‘n versoek vir die hou van ‘n inligtingsvergadering. Dit nadat Rio Tinto reeds in Februarie verlede jaar in ‘n verklaring op die Londonse aandelebeurs aangekondig het dat hy ‘n oop steenkoolgroef met nagenoeg 1,04 miljard ton steenkoolreserwes by die Chapudi-projek ontdek het. Mnr. Preston Chiaro, uitvoerende hoof van Rio Tinto Energy and Minerals, het destyds gesê dit is ‘n betekenisvolle vonds in ‘n gebied waarvan die geologiese potensiaal voorheen onderskat is.

“Die projek se potensiaal om termiese steenkool te produseer vir kragopwekking kom op ‘n tydstip dat Suid-Afrika sy opwekkingsvermoë dringend moet vergroot. Dié gebied bied boonop die geleentheid om ‘n verskeidenheid steenkool te produseer, van termiese steenkool tot kookssteenkool vir die uitvoermark.”

Rio Tinto is by verlede Saterdag se vergadering verteenwoordig deur mnre. Willem Bühr¬mann (kommersiële bestuurder van Rio Tinto), Kuda Muchenje (tegniese bestuurder van die Chapudi-steen¬koolprojek) en Oupa Mabuela (ge¬meen¬skapsverhoudings¬bestuurder).

Rio Tinto, wat al sedert 2003 bedrywig is in die Waterpoort-area, is ‘n internasionale myngroep wat in samewerking met sy swartbemagtingsvennoot, Kwezi Mining, mineraal eksplorasie doen, op soek na steenkoolneerslae.

Die Chapudi-projek, vernoem na die plek waar die eerste boorwerk gedoen is, lê in die vlakte net noord van die Soutpansberg. Meeste van die werk wat reeds gedoen is, het egter op die Waterpoort-area gefokus.

Van die vrae wat boere gehad het, het ingesluit of die mynreus in samewerking met Coal of Africa Limited, wat ‘n steenkoolmyn naby Mapungubwe beoog, werk en wat hul toekomsplanne vir die Waterpoort-omgewing is.

Grondeienaars was ook nuuskierig om uit te vind hoekom daar reeds met Eskom en ander partye samesprekings gehou is as daar nog nie besluit is om te myn nie.

Die belangrikste vraag waarop boere egter ‘n antwoord gesoek het, het betrekking op die omgewingsimpakstudie. Hulle wou graag weet hoekom Rio Tinto nie eerder met ‘n om-gewingstudie begin het, voordat hulle begin het met hul eksplorasie werk nie. Die omgewing is in ‘n waterarm gebied en enige mynbou¬bedrywighede kan die huidige watervlakke beïnvloed. Landbouers hou deurlopend die ondergrondse watervlakke dop en gebruik dit reeds met groot omsigtigheid.

Bührmann het boere die versekering gegee dat Rio Tinto nie in samewerking met Coal of Africa Limited werk nie, maar dat hulle al in die verlede mynregte uitgeruil het. Hy het bygevoeg dat daar wel ses ander myngroepe is wat belangstel in die Waterpoort-area.

Bührmann het ook boere se vrese oor ‘n omgewingsimpakstudie aangespreek en verduidelik dat die myngroep reeds hul eerste twee fases van eksplorasiewerk en ‘n evaluasiefase voltooi het en dat hul tans besig is om hul voorlewens¬vatbaarheidstudie af te handel. ‘n Voorlewensvatbaarheid¬studie word gedoen om te bepaal wat onder die grond aangaan en of ‘n steenkoolmyn ekono¬mies lewensvatbaar daar bedryf sal kan word.

Volgens Bührmann is boorwerk in die voorlewensvatbaarheid¬studie amper afgehandel en sal die finale studie teen die einde van die jaar heeltemal afgehandel word.

“Dit vat die myn lank om alles te verstaan. Rio Tinto is ‘n verantwoordelike maatskappy wat nie net sommer in ‘n ding spring nie. Die huidige ekonomiese toestande het ook natuurlik ‘n impak op die voorle¬wensvatbaarheidstudie en gevolglik vat dit lan-ger.”

As daar wel besluit word om te myn, sal daar eers ‘n omgewing-simpakstudie gedoen word.

Bührmann het ook aan boere verduidelik dat Rio Tinto tot op datum ongeveer $10 miljoen spandeer het aan die Chapudi-projek “om te verstaan wat onder die grond aangaan”.

Die tipe steenkool is bitumineuse steenkool en is volgens Bührmann geskik om elektrisiteit mee op te wek. Rio Tinto en Kwezi Mining ondersoek tans die uitvoerbaarheid en finansiële haalbaarheid van die vestiging van so ‘n myn wat steenkool aan ‘n kragstasie (soos dié van Eskom) sal lewer. Bührmann het bevestig dat die myngroep reeds samesprekings met Eskom, die Nasionale Padagentskap en Spoor-net begin het.

Hoewel sommige boere se vrae steeds onbeantwoord gebly het, is dit duidelik gestel dat die mynreus slegs met ontginning sal begin as die voorafstudie afgehandel is en daar dan besluit word dat dit die moeite werd sal wees om verdere studies te doen.

Otto het na afloop van die vergadering gesê dat alhoewel boere steeds skepties is oor Rio Tinto, hulle nou ‘n beter prentjie het van wat aangaan. Hy het bygevoeg dat daar besluit is om later ‘n komitee af te vaardig om regsadvies in te win namens die boere, as daar wel later besluit sou word om ‘n myn in die omgewing te open.

Mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van die TLU SA Noord se Louis Trichardt Boerevereniging, het dit duidelik gestel dat hulle heeltemal gekant is teen enige myn in die Waterpoort-omgewing.

“Alhoewel Bührmann ‘oop’ was tydens die vergadering, is dit duidelik dat ‘n finale besluit nog nie geneem is nie en sal ons moet wag tot dan. Ons voel egter van die TLU SA se kant af dat landbou ekonomies meer volhoubaar sal wees as ‘n myn wat ná 40 jaar uitgemyn raak.”

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines