ADVERTISEMENT:

 

Sakeman spandeer angsnag in polisieselle

 

News  Date: 31 July 2009

 

‘n Bekende sakeman van Louis Trichardt is verlede week gearresteer in wat beskryf is as ‘n onregmatige arrestasie deur polisiebeamptes wat sonder ‘n lasbrief of identifikasie sy sakeperseel binnegestorm het.

Die sakeman is oornag in die selle aangehou en moes teen 15 aangehoudenes baklei om verkragting vry te spring. Die speurders het beweer dat een van die voertuie wat in die werkswinkel van die motorhandelaar was, vermoedelik ‘n gesteelde voertuig was.

Mnr. Quentin Thompson (37), mede-eienaar en werkswinkelbestuurder van Thompson Motors, ‘n gevestigde onderneming wat al sedert 1978 sake doen, sê dat daar Dinsdag, 21 Julie, omstreeks 16:00 sowat tien polisiemanne in siviele klere ingekom het en na ‘n voertuig op een van die hysers begin kyk het. Thompson het hulle gemaan dat hulle nie net aan ‘n voertuig op ‘n hyser kan pluk nie, want die voertuig kan bo-op hulle val en dan is dit sy verantwoordelikheid. Die persone het na bewering geweier om hulself te identifiseer en Thompson gevloek. Hy het hulle beveel om sy perseel te verlaat en daar het ‘n stryery ontstaan. Daar is aan hom gesê dat hulle hom arresteer omdat hy in besit is van ‘n gesteelde voertuig.

“Ek het nooit die kliënt gesien wat die voertuig ingebring het nie. Ons kry ‘n stuk of 30 voertuie wat in- en uitgaan vir diens per dag. Ek het opgemerk dat die betrokke voertuig lank op die hyser bly en het die kantoor gevra om die kliënt te skakel om die voertuig te kom kry, maar hulle kon hom nie op sy foon in die hande kry nie,” het Thompson Maandag gesê. Dit het later geblyk dat die kliënt die adres van die doeanekantoor in Beitbrug verskaf het.

Na die arrestasie is Thompson in aanhouding in die plaaslike polisieselle geplaas sonder verlof tot na-ure borgtog. Sy regsverteenwoordiger, dr. Suwil Rudolph, was teenwoordig by die polisiestasie toe verlof tot borgtog geweier is.

Volgens dr. Rudolph is daar vier aanklagte op die dossier: die besit van vermoedelik gesteelde voertuig, dwarsboming van die gereg, verhindering van die polisie in die uitvoering van hulle pligte en aanranding van ‘n polisiebeampte. Die eerste van die vier klagte, die besit van ‘n vermoedelik-gesteelde voertuig, is van so ‘n aard dat borg nie na-ure toegestaan word nie. Dr. Rudolph het hierdie week gesê dat daar nie in daardie stadium genoeg feite tot die polisie se beskikking was om daarop te dui dat dit as ‘n klag kon geld nie.

Ná ‘n folterende nag in die selle, het mnr. Thompson die volgende oggend in die hof verskyn en is op borg vrygelaat. Hy het blou kolle aan sy gesig en hele liggaam gehad. Die saak is uitgestel na 21 Augustus vir verdere ondersoek.

Die polisiewoordvoerder het hierdie week gesê dat hulle kollegas in Johannesburg ‘n beweerde klag van motordiefstal ondersoek het en dat hulle ondersoek hulle gelei het na Thompson Motors.

“Die speurders van Johannesburg het hiernatoe gekom. Die gearresteerde is aangekla van besit van ‘n vermoedelik-gesteelde voertuig. Aan hierdie kant het ons hulle bygestaan deur hom in ons selle aan te hou,” het kaptein Maano Sadike, plaaslike polisiewoordvoerder, gesê.

“In my dae was ek trots om te sê dat ek ’n polisieman is. Dit lyk my daar is nie meer trots nie. As hulle wil hê ek moet hulle help, dan sal ek. Maar om op my perseel op my te begin vloek en skreeu?” sê Thompson, wat self voorheen vir vyf jaar ‘n polisieman by die voer-tuigdiefstaleenheid was.

Sadike het bevestig dat Thompson ‘n klag van gewone aanranding geopen het.

“Dit is nie seker of sy klag teen die selmaats of die polisie gelê is nie,” het Sadike gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines