

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 July 2009
Die Soutpansberg-pas op die N1-noord was dié week weer die toneel van ‘n grusame vragmotorongeluk. Hierdie keer is twee mense dood.
Die bestuurder van die Durbanse swaarvoertuig het vroeg Dinsdagoggend beheer verloor oor sy vragmotor, nadat die remstelsel vermoedelik onklaar geraak het. Die vragmotor het kort ná die veelbesproke Witvlag-afdraai teen die veiligheidsreling vasgejaag, waarna die kajuit aan die brand geslaan het.
Twee van die passasiers is op slag dood. Nog een passasier is ernstig beseer. Die bestuurder van die vragmotor en nog drie ander passasiers is lig beseer en na die plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.
Verkeer op die N1 is erg ontwrig, nadat die een baan gesluit moes word vir verkeer, terwyl die brandweer die vlamme onder beheer gekry en die ongelukstoneel opgeruim het.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het gesê dat die oorsaak van die ongeluk en brand nog ondersoek word. Hy het ook die vermoede uitgespreek dat die ses passasiers in die vragmotor moontlik Zimbabwiërs was. Die name van die slagoffers was teen druktyd nog nie bekend nie.

ADVERTISEMENT:
