

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 July 2009
Die Nwanedi Natuurreservaat het twee wit renosters verloor nadat stropers toegeslaan het op Woensdag, 15 Julie.
“Die horings van beide renosters is deur die oortreders verwyder. Ondersoekbeamptes en die polisie is besig met die saak en het geslaag om leidrade te vind wat na verdagtes kan lei,” lui ‘n verklaring wat op 27 Julie deur die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme uitgereik is.
Wildbewaarders het die betrokke dag ‘n dooie renosterkoei gevind in Nwanedi, naby Tshipise, nadat hulle skote hoor klap het. Haar horings was afgesaag. Die Saterdag daarna is weer daar weer ‘n grusame vonds gemaak - nog ‘n dooie renoster met verwyderde horings.
Aanvanklik is daar gemeen dat meer renosters deurgeloop het. Intussen is een renoster gevind wat ‘n seer voet het. Dis nie duidelik waarvan die voet seer is en of dit gekwes is nie, “maar hy sal dit maak” het ‘n bron na aan die ondersoek gesê.
Die Nwanedi Natuurreservaat is ‘n provinsiale park wat onder Limpopo Toerisme en Parke val. Die departement waarsku dat diegene wat gevang word dat hulle help of deelneem aan onwettige renosterjag of handel, vervolg sal word. ‘n Renosterkoei kos R350 000 of meer, “maar ‘n renoster is onvervangbaar - as hy dood is, is hy weg,” het ’n wildkenner gesê.
Volgens inligting is daar net ses renosters in die Nwanedi Natuurreservaat oor. In 2005 is Nwanedi ook geteiken en vyf renosters is gedood, terwyl twee stelle horings verwyder is. Ander wilde diere is dood nadat ‘n watergat vergiftig is.
“Inligting en in-diepte ondersoeke het daartoe gelei dat twee verdagtes deur die polisie en ondersoekbeamptes van die omgewingsbestuur inspektoraat gearresteer en gevonnis is,” sê die departement se kommunikasiediens in verband met die voorval vier jaar gelede. Richard Dzebu, ‘n toordokter, was een van die verdagtes wat in 2007 in die Louis Trichardt streekhof tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is.
Die departement sê dat die onwettige handel in renosterhorings, en derhalwe ook die jag van renosters, die afgelope drie jaar baie toegeneem het.
“Die aanvraag vir die renosterhoring kom hoofsaaklik van lande in Asië waar dit gebruik word om tradisionele medisyne, asook die handvatsel van die Jambaya dolk, te vervaardig. In die negentigerjare het die onwettige handel in die renosterhoring aansienlik afgeneem. Dit skyn egter of die groeiende aanvraag in baie tradisionele verbruikerslande gelei het tot ‘n oplewing in die onwettige handel en jag van ons land se renosters,” sê die departement.
Daar is onlangs ’n verdere twee renosters in die Kruger Nasionale Park gedood, wat die getal renosters wat die afgelope 18 maande daar gedood is op 61 te staan bring.
Die departement versoek enige een met inligting in verband met onwettige renosterjag om met departementele ondersoekbeamptes Lindiwe Malhabehwane of Faan Coetzee in verbinding te tree by 015 290 7000.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
