ADVERTISEMENT:

 

Boelie se herstel danksy 'n "wonderwerk"

 

News  Date: 02 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die dapper negejarige Villiers (Boelie) Grobler, wat vir amper a maand lank om sy lewe moes veg in 'n hospitaal in Pretoria, is weer terug by sy ouerhuis.

Talle het sy vinnige herstel toegeskryf aan 'n wonderwerk, nadat dokters in a stadium sy ouers versoek het om gereed te maak vir die ergste.

Boelie, die jongste van drie kinders van Sybrand en Adele Grobler, is verlede week Dinsdag uit die hospitaal ontslaan, nadat 'n ernstige asma-aanval hom vir etlike dae bewusteloos in die intensiewe sorgeenheid van die Muelmed-hospitaal in Pretoria laat beland het. Hy was vir 'n geruime tyd aan 'n asemhalingstoestel gekoppel, terwyl hy vir 14 dae deskundige behandeling moes ontvang vir respiratoriese versaking. Sy longe het letterlik ophou funksioneer. In 'n stadium is vir die ergste gevrees, toe daar oënskynlik geen vordering was nie en altwee sy longe gedeeltelik platgeval het. Suurstof moes deur 'n snit in sy keel toegedien word.

"Die desperaatheid van die situasie het eers werklik deurgedring toe 'n kinderarts professor vir ons na nege dae in die intensiewe sorgeenheid gesê het dat hulle nou alles gedoen het wat hulle kon en dat al wat nou oorbly is om te bid en sterk te wees," vertel Sybrand.

"Op die negende dag was hy op 100% suurstof. Die ventilator het hom aan die lewe gehou. Op die tiende dag is 'n mikroskopiese kamera gebruik om moontlike verstoppings in die lugweë en longe te probeer opspoor, nadat dele van die longe begin platval het."

Terwyl hulle by hom gewaak het, het hulle die gemeenskap tuis deurentyd op hoogte gehou van die situasie. Hul twee ander kinders was intussen in die sorg van hul ouma.

Die ernstige noodsituasie waarin die klein seuntjie en sy ouers vasgevang was, het die hele gemeenskap aangegryp. Gelowiges van uiteenlopende denominasies het deelgeneem aan 'n georganiseerde gebedsketting en gebid vir Boelie se herstel.

"Ons was bewus van die gebede," sê Sybrand.

Na die interne ondersoek met die kamera het die eerste X-strale die volgende dag tekens van verbetering getoon. Dit het standhoudend toegeneem. Boelie het sy bewussyn herwin en drie dae later kon hy van die masjiene ontkoppel word. Nadat hy uit die intensiewe sorgeenheid gekom het, moes hy nog vir twee weke in die hospitaal aansterk.

Boelie het verlede week 'n vinnige draai by sy skoolmaats gemaak en hoop om in die nuwe kwartaal die agterstallige skoolwerk in te haal.

Die gesin het vandeesweek met groot waardering gepraat van die mediese en morele bystand wat hulle tydens die hele traumatiese ervaring beleef het – vanaf die oomblik toe hulle met Boelie by die plaaslike hospitaal aangekom het.

"Die vinnige besluit van dr. Lappies Labuschagne om Boelie na 'n spesialis-hospitaal af te voer, het beslis sy kanse op oorlewing vergroot. In Pretoria het ons daagliks oproepe ontvang van meelewing en voorbidding. Drie predikante het ons ook kom besoek. Ons wil almal vir hul meelewing en steun bedank," het Sybrand en Adele vandeesweek gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines