ADVERTISEMENT:

 

Vir die eerste keer in 11 maande na hul seun Johan se dood, is daar bietjie meer rustigheid in ouers Frik en Sougnet van Louis Trichardt se gemoed. Hul seun se oorskot is gevind. Nou kan hulle as ouers uiteindelik hul seun begrawe.

Nel se oorskot uiteindelik gevind

 

News  Date: 07 August 2009

 

Vir die eerste keer in 11 maande het die Nel-egpaar van Louis Trichardt bietjie rustigheid in hul gemoed. Om 21:00 op Vrydag, 31 Julie, het hulle die oproep gekry ... hul seun Johan se oorskot is uiteindelik gevind.

Die 36-jarige Johan Nel is op 8 September verlede jaar op slag dood, nadat sy bakkie en ‘n vragmotor naby Brits in Noordwes Provinsie gebots het. Beide voertuie het uitgebrand, met Johan wat in sy bakkie verkool het. Sedertdien kon sy ouers, Frik en Sougnet, nog nie vir hul seun ‘n begrafnis gee nie, want die Staat het Johan se oorskot laat wegraak.

‘n Kommissie van ondersoek het op 19 Julie vanjaar begin met ‘n ondersoek na die omstandighede wat daartoe bygedra het dat die Staat Johan se oorskot kon verloor het.

Die kommissie is aangestel deur die premier van Noordwes, me. Maureen Modiselle, en is getaak om eerstens uit te vind hoe Johan se oorskot verlore geraak het, asook om te kyk na ander probleme rakende die Noordwes Provinsie se staatslykshuise. Die ondersoekspan bestaan uit twee mediese dokters, ‘n patoloog, ‘n advokaat en mev. Wilna Liebenberg, wat vanaf Januarie vanjaar al die Nel-egpaar behulpsaam is in hul soektog na hul seun se oorskot. Afriforum se mnr. Kallie Kriel staan ook die Nel-egpaar by met regshulp.

Vroeër hierdie jaar, op 22 Januarie, is Frik en Sougnet wel meegedeel dat Johan alreeds op 21 Oktober verlede jaar as een van 13 ongeïdentifiseerde liggame as ‘n armlastige in die Oukasie-begraafplaas buite Brits begrawe is. Kort hierna is ‘n hofbevel uitgereik vir die opgrawe van Johan se oorskot. Dié opgrawing het op 20 Februarie op staatskoste plaasgevind, maar dit was nie Johan se lig-gaam nie. Begin Junie vanjaar was Frik weer by die lykshuis op Brits. Weer is ‘n lyk aan hom gewys, maar dit was ook nie Johan nie. ‘n Paar dae later is daar weer ‘n ander lyk aan hom gewys, maar ook dit was nie Johan nie. Dit was kort hierna dat die premier van Noordwes, op aandrang van die Nel-egpaar en Afriforum, ‘n kommissie van onder-soek geloods het.

“Alhoewel die kommissie nog nie amptelik hul bevindings bekendgemaak het nie, kan ek net sê dat hulle Johan se oorskot opgespoor het,” het Frik Woensdag gesê. Dit blyk dat Johan wel in die Oukasie-begrafplaas as armlastige begrawe is, maar dat hulle nie sy oorskot kon vind nie, want hy is saam met ‘n ander liggaam in dieselfde sak begrawe. Na die soveelste DNS-toetse, was daar verlede week uiteindelik goeie nuus vir die familie.

“Die onafhanklike patoloog se DNS-toetse wys dit is Johan,” het Frik gesê. Hy het gesukkel om woorde te vind om te beskryf hoe hulle as ouers gevoel het nadat hulle Vrydagaand die oproep gekry het.

“Ons is bly ... dit bring sekerlik ‘n einde aan ‘n 11-maande-lange nagmerrie, maar nie ‘n einde aan die stryd wat ons probeer voer om te verhoed dat dit nie met enige iemand anders gebeur nie,” sê Frik. Johan se liggaam sou Donderdag hierdie week aan Avbob oorhandig word vir verassing. Frik meen die proses kan nog so twee of drie weke duur.

“Dan kan ons seun kom rus,” sê Frik.

Intussen het Afriforum ‘n verklaring uitgereik waarin hulle die premier van Noordwes, asook die kommissie, bedank vir die toewyding waarmee hulle hul taak die afgelope paar weke aangepak het.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines