

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 August 2009
Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar vriend, insp. Willem Jacobs (39) van die Mara-omgewing, se dood veroorsaak het nadat sy hom tydens ‘n bakleiery geskiet het, is op Donderdag, 30 Julie, op R5 000 borg vrygelaat.
Insp. Jacobs, ook beter bekend as Jakes, is Dinsdagaand, 21 Julie, dood aan ‘n skietwond in die bors. Dit het gevolg na ‘n skietery by die huis wat hy en sy 55-jarige vriendin, Dorothea Hermina du Toit, gedeel het. Du Toit is kort ná die skietvoorval in hegtenis geneem.
Tydens Du Toit se borgaansoek verlede week het sy aangevoer dat sy en Jacobs oor ‘n selfoonlaaier gestry het. Hy het haar glo gevloek en op haar geskreeu, waarna sy hom na bewering met een van sy privaatvuurwapens geskiet het. Du Toit het gesê dat Jacobs haar al van te vore beledig en afgekraak het. Volgens familie en vriende van Jacobs en Du Toit het beide ‘n geskiedenis van depressie en het hulle dikwels in woordewisselings be-trokke geraak.
Du Toit het ook tydens haar borgaansoek gesê sy huil elke dag oor Jacobs. Sy het aan die hof gesê dat, sou sy borg kry, sy by haar familie in Marble Hall sal gaan bly tot haar volgende hofverskyning.
Die hof het na aanhoor van Du Toit se borgaansoek aanbeveel dat sy sielkundige hulp moet kry. Du Toit is toe vrygelaat op voorwaarde dat sy elke Maandag en Vrydag by die polisiestasie in Marble Hall aanmeld. Haar saak is uitgestel tot 17 September vanjaar in afwagting op terugvoer in die saak van die Direkteur Openbare Vervolging.

ADVERTISEMENT:
