ADVERTISEMENT:

 

Edna Prinsloo (voor), 13-jarige leukemie pasiënt van Louis Trichardt, was ‘n tydjie tuis na haar behandeling, wat ook haar gesiggie laat opswel het. By haar is ousus Hillette (15).

Dapper Edna stort nie ‘n traan tydens behandeling

 

News  Date: 07 August 2009

 

Edna Prinsloo, die 13-jarige leukemie pasiënt van Louis Trichardt, pas haarself goed by haar nuwe lewenstyl aan. Die koste van haar behandeling kan egter oploop na meer as R1miljoen het die plaaslike kanker sorggroep gesê.

“Dis partykeer erg. Maar ek voel nou baie beter as voorheen,” het Edna op 25 Julie gesê, terwyl sy ‘n tydjie tuis was. “Sy het nie ‘n traan gestort tydens die behandeling nie, net my hand al vaster gedruk. Sy is baie dapper,” sê ma Christine. Baie verstandig dra sy heeltyd haar maskertjie oor die neus en mond om onwelkome kieme af te keer. Haar gesiggie en ook haar enkels het geswel as gevolg van die behandeling. Van haar vriendinne het al kom besoek en dan het hulle almal maskers opgesit. Edna neem ook self haar koors elke oggend.

“Sy pas haarself mooi op,” sê Christine.

Verlede week Maandag was dit weer hospitaaltyd en beenmurg en breinvog is sommer als op een slag getrek. Van die uitslae het getoon dat die beenmurg stadig maar seker weer in werking kom.

“Die witbloedselle het verhoog van 0.4 na 2.2. Dit is baie beter. My dag was gemaak toe ek die uitslae hoor,” het Christine verlede Donderdag gesê. Daar was 95% kankerselle in haar beenmurg gevind met diagnose op 21 Junie en die telling is al reeds af na 5%.

Edna het die eerste fase, of die induksiefase chemoterapie, deurgegaan. Die behandelings het Laspar inspuitings in die spiere ingesluit, wat help keer dat die kanker nie versprei nie. Sy het ook twee keer bloedoortapings ontvang. Haar bloedgroep is A+. Sy het hierdie week met die konsolidasiefase chemo-terapie by die Little Company of Mary-hospitaal begin. Volgens aanduidings is dr. Lourens de Jager baie tevrede met die wyse waarop Edna reageer.

Tussendeur speel Edna graag met haar PlayStation wat sy by Reach for a Dream present gekry het. Nou en dan lees sy of teken of kyk na ‘n storie. Sy het tot al verlang daarna om huiswerk te doen!

Ousus Hillette (15) is sommer verpleegster en help in die huis en met die ander kinders, Chirsja (9) en JP (5) as ma nie daar is nie. Wanneer sy nie in Pretoria saam met Edna is nie, spartel ma Christine om haar werk in te haal.

“Agt ure is net nie meer genoeg in ‘n dag om al die werk gedoen te kry nie,” sê Christine.

Ma Christine het die hele skoolvakansie by Edna in Pretoria deurgebring en as hulle nie met behandeling besig was nie, het hulle in die CHOC-huis (Childhood Cancer Foundation of South Africa) gewoon. Dit word deur vrywilligers bedryf en is van donasies afhanklik. In die tweede week van die vakansie het Edna ‘n terugslag gehad en is in die hospitaal opgeneem met koors, maar is na vier dae ontslaan.

Edna verloor nie gewig nie, maar het trouens ‘n bietjie opgetel.

“Die eerste week in die hospitaal wou ek nie eet nie en kon ek nie self eet nie. Nou is ek honger,” sê Edna. Biefstuk en niertjiepastei is op die oomblik haar gunsteling. Verder eet sy baie groente en proteïene, maar bly weg van soetgoed, vitaminepille, braaivleis en roosterbrood.

Die mediese uitgawes en die heen en weer reis na Pretoria beloop groot bedrae vir hierdie gesin, waar ‘n enkelmoeder vier kinders versorg. Sekere dele van die mediese fonds is reeds uitgeput. Die Prinsloos is baie dankbaar vir elke bydrae van die Makhado Care Group, Ladies Circle en ander instansies en persone, hetsy in die vorm van finansies of andersins.

Finansiële bydraes kan in die Van Heerden en Rudolph Trust Rekening inbetaal word. Die rekeningnommer is 100 574 0840, ‘n tjekrekening by ABSA Bank op Louis Trichardt en die verwysing is die Edna Prinsloo Fonds. Dit is dieselfde rekening wat vir die ander leukemie pasiëntjie, Reinhardt Smit, gebruik word, maar met verwysing Reinhardt Smit Fonds.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines