

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 August 2009
Inwoners van die Soutpansbergstreek word gewaarsku om versigtig te wees vir veldbrande.
Brain Homewood, raadgewer van die Departement Waterwese en Bosbou, sê ingevolge die bosbouwet word geen oop brande in Augustus, September en Oktober toegelaat nie, omdat ‘n brandverbod jaarliks in dié tyd geld. Hierdie verbod het reeds op 1 Augustus in werking getree.
Hy het ook gewaarsku dat die goeie reëns vroeër vanjaar tot gevolg het dat plante digter gegroei het en dat daar gevolglik meer plantmateriaal is wat vinniger kan brand.
Enige iemand wat die verbod verontagsaam, kan vir hulle swaar boetes op die hals haal en kan selfs aanspreeklik gehou word vir die brandskade op eiendom wat weens die brand skade kry.
Homewood het gesê dat daar veral teen brand gewaak moet word in areas waar daar baie plantasies en vrugte-boorde is (soos die Levubu- en bosbou-areas), aangesien die verlies van hierdie bome ‘n groot impak kan hê op die land se ekonomie.
Sy raad aan grondeienaars is om die nodige voorsorg te tref en om altyd paraat te wees, indien ‘n veldbrand sou ontstaan. Ingevolge die bosbouwet word aanvaar dat iemand van wie se eiendom ‘n brand versprei, skuldig is tot anders bewys. Hy het aanbeveel dat boere hul werkers oplei, sodat hul-le sal weet hoe om ‘n brand effektief te bestry.
“Kommunikasie is baie belangrik. Sluit aan by jou plaaslike brand on-dersteuningsnetwerk, sodat jy iemand kan skakel om jou te gaan help vuur dood slaan.”
Volgens Homewood is dit ook belangrik dat mense enige brand so vinnig as moontlik sal aanmeld.
Plaaslike brandweerhoof mnr. Jack Ramalatso het by navraag bevestig dat daar in Julie ‘n getal van 16 brande by die brandweerstasie op Louis Trichardt aangemeld is. Hy het ‘n beroep gedoen op die publiek om nie brande te stig nie en enige brande by die stasie aan te meld.

ADVERTISEMENT:
