

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 August 2009
Is alle Suid-Afrikaners dan nie veronderstel om gelyk voor die gereg te wees nie?
Ek wil graag na drie aangeleenthede verwys wat plaasgevind het op ons voorheen mooie dorpie.
Eerste geval: ‘n Tydjie gelede (datum tans onbekend aan my) word ‘n optog gehou deur ‘n groep oorwegend blanke persone om beswaar te maak teen die gevaarlike vier-rigting stop aan die noordekant van die dorp op die N1. Die verkeer word belemmer en nege blanke persone word summier deur die polisie gearresteer, opgesluit en hof toe gesleep. Die polisie is baie ongelukkig omdat wyle landdros Scheepers geweier het om die persone in hegtenis te hou. Landdros Scheepers word uitgekryt as ‘n rassis.
Twee geval: Verlede maand staak nie-blanke werkers van die ouetehuis op Louis Trichardt oor hul lone. In ‘n stadium word die N1 ook deur hulle geblokkeer en die verkeer belemmer. Maar dié keer was daar geen sprake van enige arrestasies nie.
Derde geval: Die munisipale werkers staak ook oor hul lone. Die verkeer in die middedorp word vir ure belemmer deur die stakers. Weereens, geen arrestasies nie.
Die vraag wat ek nou wil vra: Hoekom word slegs blanke persone wat deelneem aan optogte gearresteer en nie ook nie-blankes nie?
Die blankes se optog was ordelik en geen skade is aan enige persoon aangedoen nie. Dieselfde kan egter nie van die nie-blanke optoggangers gesê word nie.
Die indruk wat geskep word is, as jy nie-blank is, dan kan jy basies doen net wat jy wil. Dieselfde kan egter nie gesê word van die blankes nie. As jy ‘n ordelike optog wil hou, word jy summier toegesluit.
Is dit niks anders as rassisme nie?
Die ergste van alles is dat mense dit maar net aanvaar. Ek daag die blanke persone uit wat destyds gearresteer was om die polisie en/of munisipaliteit na die gelykheidshof te neem en skadevergoeding te eis.
- Jaco Pretorius (Louis Trichardt)

ADVERTISEMENT:
