

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 August 2009
Kranige motorfietsryer mnr. Riaan Smit van Louis Trichardt is gelukkig om te lewe nadat ‘n bakkie tromp-op met sy motorfiets gebots het.
Die 31-jarige Riaan, seun van bekende sakeman Johan en Annemarie Smit en self ‘n sakeman, het van die ongeluk afgekom met ‘n gebreekte regterhand, ‘n seer linkerhand, ‘n seer linkerenkel en baie skraapplekke en kneusplekke. Die besluit wat hy in ‘n breukdeel van ‘n sekonde geneem het om die motorfiets onder hom uit te laat gly, het heel moontlik sy lewe gered. Die motorfiets, ‘n Honda CBR 1000cc Fireblade, lyk totaal afgeskryf en die verwagting is dat die assessor dit so sal bevestig.
Mnr. Smit, ‘n vennoot by Thohoyandou Spar en Tops, het besluit om Sondag, 2 Augustus, met die motorfiets werk toe te ry. Hy ry nie normaalweg met die motorfiets nie, maar die pad is stiller op ‘n Sondag en hy sou voor donker terug wees. Nog ‘n rede om die motorfiets te gebruik was die feit dat hy die komende Saterdag op Kyalami sou gaan jaag.
Vlak voor Royal Macadamia het ‘n bakkie van Thohoyandou se kant af voor hom ingedraai na Royal Macadamia. Dit was omstreeks 07:30. Riaan het besluit om na regs te swenk om die ongeluk te vermy. Die bestuurder het hom raakgesien en teruggeswaai.
“Ek sien toe hier kom ‘n trompop botsing. Ek het rem getrek en die fiets laat val. Die bakkie en die fiets is in my baan in mekaar in. Ek het links verby die bakkie van die fiets afgegaan. Daar het ek op my linkerkant geval en seker met my regterhand probeer keer. Van ek die fiets neergesit het tot dat ek geval het, kan ek niks onthou nie.”
Riaan onthou egter dat van die jong insittendes van die aankomende voertuig hom uit die pad getrek het en gehelp het om sy valhelm en handskoene af te kry.
Die linkerkant van Riaan se valhelm was vergruis en een van die bene in sy pols is gebreek. Hy het ‘n beskermende leerbaadjie en leerhandskoene aangehad. Sy linkerskoen is later in die wrak gevind.
“Daar het ook Engelssprekende mense gestop en die polisie is ontbied. My selfoon is gelukkig nie beskadig nie,” sê Riaan. Vroulief Aretha, wat by haar ma in Kriel gekuier het, het net mooi daardie oomblik gebel en gehoor van die ongeluk.
“Ek was geskok, maar die feit dat hy kon praat, het gehelp,” sê Aretha.
Riaan het mnr. Cornel Zaayman, sy vennoot, geskakel. Zaayman en sy vrou het hom dadelik kom haal en na die privaat hospitaal in Louis Trichardt geneem. Hy het ook vir mnr. Inus Steyn geskakel om die wrak van sy fiets te kom laai. Hierdie was Riaan se negende motorfiets.
Kaptein Mukondelele van die polisie op Levubu het bevestig dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.
Riaan bedank graag Cornel en sy gesin vir hul flinke hulp en Inus vir die haal van die fiets, asook al sy familie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
